‘n Daspoort-vrou is getraumatiseer en bang om uit te gaan nadat sy ‘n tweede keer in Eskia Mphahlele- (DF Malanrylaan) en Vom Hagenstraat aangeval is.
Magda Stroebel vertel hoe sy Maandagaand op pad huis toe die tweede keer binne nege maande aangeval is. “Ek en my suster was van die klein-eise hof op pad huis toe. Daar was karre voor ons. Sy het gekla oor hoe warm dit is en ek het vir haar gesê ek gaan nie die venster groter oopmaak nie. Die venster was net ‘n bietjie oop, maar die man wat my aangeval en my hangertjie om my nek gegryp het, kon sy hand deurkry.”
Sy het in trane vertel hoe die man haar kruis-hangertjie gegryp en weggehardloop het.
“In Desember het dieselfde ding gebeur. Ek, my man en seun was op pad huis toe. Ek het gaan koeldrank koop en gesien hoe ‘n man vir my kyk. Hy het na my gehardloop en my hangertjie gegryp. Ek het dit vasgehou en hy het net met ‘n deel daarvan weggekom,” het Stroebel gesê.
Sy sê vyf mans het haar oor die grond gesleep en haar arms en bene is beseer. Haar seun het dit gesien en die metro polisie gehelp om een van die diewe in hegtenis te neem.
“Wat my ongelukkig maak is dat ek in Desember die saak by die polisie aangemeld het. Dinsdag het ek die nuwe saak gaan aanmeld, maar die polisie het nog nie vir my ‘n saaknommer gegee nie. Met die Desember-saak het ek steeds geen kennisgewing van die hof gekry nie – of iets om te sê die man gaan in die hof verskyn nie,” het Stroebel gesê.
Sy is nou bang om dorp toe te gaan en bly net in die huis. Stroebel het gesê sy kan nie slaap nie omdat sy so bang is.
Eskia Mphahlele -en Vom Hagenstraat is welbekend vir kaping en roof. Baie mense dink dit is die mense wat goedere by die verkeersligte verkoop wat mense beroof.
“Ek wil net hê mense moet versigtig wees as hulle daar ry, want die plek is nie veilig nie. Ek weet ek is getraumatiseer maar die Here sal my help om reg te wees. Die polisie en metro polisie moet maar iets doen, miskien kan hulle mense daar aanstel,” het sy gesê.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook-blad en volg ons op Twitter.

