
Agt mense is die afgelope week in die Sinoville-omgewing in hegtenis geneem. Sinoville-polisiewoordvoerder Mirna von Benecke sê verdagtes is vir onder meer roof, huisbraak, besit van gesteelde goedere en betreding aangekeer.
Maandag is twee 26-jarige vermeende diewe in Montanapark in hegtenis geneem toe hulle ‘n vrou beroof het wat op pad bank toe was om geld te deponeer. Hulle is deur ‘n lid van die gebiedspolisiëringsforum (GPF) opgemerk wat die SAPD sowel as ander GPF-lede in kennis gestel het. Die verdagtes is toe aangekeer.
In ‘n ander geval is twee verdagtes (27 en 35) Dinsdag vasgetrek nadat hulle by ‘n huis ingebreek het. Die twee diewe het ‘n huishulp in Wonderboom aangehou en onder meer ‘n televisie, drank, ‘n dvd-speler en juwele gesteel.
Twee rowers is deur die GPF opgemerk toe hulle oor die muur gespring het en ‘n derde wat buite in ‘n voertuig gewag het. Twee diewe het weggejaag nadat hulle die gesteelde items in die voertuig gelaai het.
Die derde een het te voet gevlug en is deur die GPF naby Laerskool Wonderboom voorgekeur. Die voertuig wat wegejaag het, is deur die polisie agtervolg.
Een van die verdagtes het uit die bewegende motor gespring en is naby die Deon Malherbe- swembad in hegtenis geneem.
In die harwar het die voertuig waarin die diewe gevlug het, weggekom, maar is later in klein Zambesi opgespoor. Al die gesteelde goedere is teruggekry, maar die derde verdagte is steeds soek.
Nog twee diewe (31 en 19) is Dinsdag in ‘n ander voorval vir huisbraak in hegtenis geneem. Hulle het verlede week by ‘n Montana-huis ingebreek. ‘n Onbekende persoon het die beroofde vrou geskakel en gesê sy kan haar gesteelde goedere by ‘n adres in East Lynn gaan haal. Sy het die polisie in kennis gestel en hulle het haar na die adres vergesel. Die twee rowers is daar in hegtenis geneem.
Die polisie het Maandag ook ‘n 26-jarige in hegtenis geneem toe hulle hom in Montana voorgekeer en in besit van onder meer gesteelde sparre betrap het. Die dief het erken dat hy die sparre gesteel het.
Von Benecke moedig die publiek aan om vertroud te raak met die GPF en om aan te sluit. Die GPF help om inligting vining by die polisie te kry wat spoedige reaksie verseker.
Vir jou daaglikse nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.
