Die diefstal van motorvoertuie sowel as breek-en-gryp voorvalle het onlangs in die Sinoville-area toegeneem.
Mirna Von Benecke, die woordvoerder van die Sinoville-polisie, het ’n paar wenke uitgereik vir die gemeenskap om meer op hul hoede te wees om hierdie voorvalle te voorkom.
Volgens Von Benecke moet mense nie handsakke, skootrekenaarsakke en selfone op die sitplekke van motors los sodat dit deur die venster sigbaar is nie. Daar is die afgelope ruk heelvat voorvalle aangemeld waar voertuie wat buitekant erwe of winkelsentrums geparkeer is, se vensters gebreek word en mense se besittings gesteel word.
Von Beneke versoek mense om eerder hul besittings in die kattebak toe te sluit en altyd dubbel seker te maak dat die voertuig wel gesluit is.
Sy sê verder baie voorvalle is gedurende die laaste maand aangemeld van duursame fietse wat uit erwe, motorhuise of vanaf motors gesteel is. Mense moet hul fietse toesluit en buite sig van die straat af los.
Sy waarsku ook besighede wat van die huis af bedryf word om versigtig te wees indien hulle kragonderbrekings ondervind. Von Beneke sê misdadigers gebruik dit soms as ‘n lokval sodat hulle kan inbreek.
Vir meer nuus en wenke, besoek Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.
