
Die Moot-polisie doen ’n beroep op alle ouers en inwoners om die regte inligting byderhand te hê indien hulle ’n persoon as vermis wil aanmeld.
“Dit is kommerwekkend om te sien hoeveel minderjarige kinders deur hul ouers as vermis aangemeld word. Dit is vir ouers baie traumaties. Ons wil dus van die polisie se kant af vir ouers wenke gee ten einde ons in staat te om die vermiste persoon so gou as moontlik op te spoor,” het luitenant Linda Jerling, woordvoerder van die Moot-polisie gesê.
Sodra ’n persoon vermis word, moet die vermiste persoon onverwyld by die polisie aangemeld word. Die persoon se volle naam, van en troetelnaam moet aan die polisie verskaf word.
“Verskaf die omstandighede rondom die verdwyning, ’n onlangse foto, beskrywing van vermiste persoon se kleredrag en enige gedragsprobleme,” het sy gesê.
Ken die vermiste persoon se vriendekring, waar hulle kuier, adresse en telefoonnommers.
“Doen navraag oor ‘n kind wat by vriende oorbly en weet die kind se ouers waar hulle kuier. Indien jy bewus daarvan is dat die kind weggeloop het, is dit ’n oortreding om dit stil te hou,” het Jerling gemaan.
Navrae: Kontak adjudant-offisier Elize Pieterse by 082-781-9599 vir inligting.
Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.
