Vlieënier se aanvaller binnekort in hof
Die man wat 'n vlieënier glo by 'n vulstasie aangerand het, verskyn Woensdag in die hof.
Die man wat ‘n 57-jarige vlieënier glo by ‘n vulstasie met die vuis bygedam en gewurg het, sal Woensdag in die Hatfield-landdroshof op aanklag van aanranding verskyn.
Dié hofverskyning volg nadat die man, wat beweer het sy naam is Hendrik Visagie, in die vroeë oggendure van 30 Augustus na bewering vir Danie Hamman by die Gerhaldo Engen-vulstasie, Garsfontein aangerand het.
Die man het beweer hy is ‘n mede-eienaar van die vulstasie en het hom vermoedelik vir Hamman vererg toe Hamman ‘n woordewisseling oor ‘n personeel-staking by die geriefswinkel gehad het.
Tonie Slabbert, vulstasie-bestuurder, het gesê hy weet nie wie die man is nie en dat hy beslis nie ‘n mede-eienaar is nie.
In ‘n beeld-opname wat Hamman met sy selfoon gemaak het, dreig die man dat hy hom drie sekondes sal gee om hom uit die voete te maak voor hy hom sou slaan. “Ek gee jou drie sekondes anders p*** ek jou brilletjies in jou oë in,” het die man gedreig.
Hamman sê die man het begin tel, sy (Hamman) se bril van sy kop afgeruk en hom met die vuis teen die regteroog geslaan.
“Ek het op die grond geval en die man het aangehou om my te slaan en te wurg,” beweer Hamman.
Die man het in ‘n silwer Mercedes-Benz C-model weggery. Hamman het verskeie kneusplekke aan sy lyf opgedoen en het sewe steke aan sy mond en lip gekry.
Hy het ‘n maand ná die aanval aan Rekord gesê sy nek is nog seer van die wurg. “Hoewel my uitwendige besering soos my lip en oog genees het, blyk dit nou daar is inwendige skade,” sê Hamman. “Ek kry aanhoudend hoofpyne en my neus bloei kort-kort.”
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Lees ook:
VIDEO: Vlieënier by vulstasie aangerand
Vulstasie-aanvaller steeds soek
