Die opgeleide jaghond, wat meer as twee weke gelede uit die Brooklyn-winkelsentrum se parkeerterrein saam met ‘n bakkie gesteel is, is steeds spoorloos.
Jack (10), ‘n Duitse korthaar-apporteerhond, se eienaar Kobus Greeff van Lynnwood het ‘n R 10 000 se beloning gebied vir enigiemand wat hom met sy geliefde vriend kan herenig.
Jack het voorverlede Sondagmiddag (21 September) agterop Greeff se wit Land Cruiser-bakkie vir sy baas gewag toe die bakkie tussen 12:00 en 13:00 gesteel is.
Greeff sê beeldmateriaal by die sentrum wys hoe twee diewe by die valhek van die parkeerterrein uitry.
Hulle het ‘n ander voertuig deur die hek gevolg.
Jack kon nie afspring nie omdat die bak met tralies toegemaak is.
Michelle Kriek, sentrumbestuurder, sê dit is kommerwekkend dat ‘n voertuig uit die parkeerterrein gesteel is.
“Tydens ons ondersoek het dit aan die lig gekom dat die diefstal duidelik deur ‘n ge­oefende groep gepleeg is. Verskeie individue in verskillende voertuie het saamgewerk om ons veiligheidswagte te ontduik,” sê sy.
“Ons sal die beeldmateriaal aan die polisie oorhandig en hulle ook op enige manier moontlik in die ondersoek bystaan. Ons doen ‘n beroep op almal wat by die diefstal betrokke was, of wat die hond gesien het, om te help om die dier met sy eienaar te herenig.”
Die registrasienommer van Greeff se voertuig is XVG 360 GP. Brooklyn polisie stel ondersoek in. Enig­iemand met inligting kan die polisiekantoor by 012-366-1735/6 of die Stop Misdaadlyn by 086-001-0111 bel.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Lees ook:
R10 000 beloning vir vermiste hond
