MunicipalNews

Vullis hoop op in Moot

Inwoners in Moot is ontstoke oor swak dienslewering van Tshwane-munisipaliteit se afvalbestuur.

Moot-inwoners is ontstoke oor swak dienslewering van afvalbestuur in Rietfontein die afgelope paar maande.

Etienne Botha van Rietfontein is moedeloos en meen dit is onaanvaarbaar is dat Tshwane-munisipaliteit se afval-diens soms tot vier dae laat is om die munisipale asblikke in die gebied te kom leegmaak.

“Baie mense kla hieroor en ons almal oorweeg dit om eerder privaat kontrakteurs aan te stel om die vullis te verwyder. Waarvoor betaal ons as ons nie dienslewering kry nie?” het Botha gevra.

Botha, wat al sowat 34 jaar in Rietfontein woon, sê hoewel hulle ‘n paar jaar gelede soortgelyke probleme met vullisverwydering gehad het, die laaste paar maande net te erg is.

“Ons het vir lank geen probleme met ons asblikke gehad nie, maar die laaste ruk raak dit al hoe erger. Hulle was in ‘n stadium elke week laat, maar het darem steeds op ‘n Maandag gekom om die asblikke leeg te maak. Nou kom hulle soms eers Woensdae of Donderdae,” het hy gesê.

Volgens Elmarie Linde, raadslid van Wyk 54, is hierdie probleem nie net beperk tot Rietfonetein nie, maar ook ‘n kwessie in Gezina, Villieria en Wonderboom-Suid.

“Ek kry weekliks klagtes van inwoners oor asblikke wat nie deur afvalbestuur leeggemaak word nie en ons kry eenvoudig nie antwoorde van die metro nie. Dit is besig om ‘n gesondheidsrisiko te word by plekke soos woonstelblokke, waar die vullis ophoop,” het Linde gesê.

Tshwane-munisipaliteit woordvoerder Lindela Mashigo het gesê dat die afvalbestuur hierdie week laat was as gevolg van vakbond-aktiwiteite.

“Vragmotorbestuurders is klaar uitgestuur om te verseker dat die agterstallige vullis so gou as moontlik verwyder word,” het Mashigo gesê .

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button