
Skaars ‘n dag nadat Rekord berig het oor die konstante kragonderbrekings in die Moot, is inwoners in De Beerstraat weer in die donkerte gedompel danksy kabeldiewe.
Woedende inwoners is sedert 03:00 vanoggend sonder krag as gevolg van kabeldiefstel in De Beerstraat, tussen 4de en 5de Laan.
Hulle het hul klagtes op Facebook geplaas en selfs raadslid vir Wyk 54, Elmarie Linde, is ongelukkig oor die diens van Tshwane-metro.
“Dit is reeds aangemeld, maar ek is nie seker of die kragtoevoer teen vanaand herstel sal wees nie,” het ‘n moedelose Linde gesê.
Volgens haar het sy die vorige aand ‘n bakkie in die omgewing, met munisipale plakkers daarop, aan die polisie gerapporteer.
Sy kan egter nie bevestig of die bakkie by die diefstal betrokke was nie.
‘n Inwoner wat sonder krag sit na die diefstal, Jaco Bester, is woedend oor die situasie.
“Dit is die tweede keer hierdie week wat ons sonder krag sit as gevolg van kabeldiefstal,” het Bester gesê.
Nog ‘n inwoner van die area, Susan Vorster, is raadop oor die gesukkel met kabeldiefstal.
Rekord het Donderdag berig dat die Moot vir die laaste paar maande geteister word deur kragonderbrekings.
Die Tshwane-metro was teen spertyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.
Lees ook: Kragonderbrekings kopseer vir Moot inwoners
