Hoërskool Eldoraigne se geliefde skoolhoof Frank Roos, het onlangs aangekondig dat hy na 19 jaar as hoof van dié skool gaan aftree.
Roos het in 1973 sy loopbaan in die akademie as biologieonderwyser by HTS Witbank begin waarna hy by Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal as departementshoof en koshuisvader aangemeld het. Sy paadjie het hom daarna na Hoërskool Verwoerdburg (nou Hoërskool Centurion) gelei waar hy vir agt jaar as adjunkhoof diens gedoen het voordat hy as senior adjunkhoof by Hoërskool Gerhard Maritz in Pretoria Noord werksaam was.
Roos het uiteindelik by Hoërskool Eldoraigne geeindig en sê dat dié skool ‘n fantastiese gemeenskap is met die mees leergierige kinders. Tog het hy as hoof altyd die daaglikse interaksie met leerlinge gemis.
“Ek het my ingeleef in Biologie as vak. Ek het handboeke geskryf vir die onderwysdepartement en het ook as hoofeksaminator van die nasionale onderwysdepartement gedien, sowel as op die biologie navorsingskomitee.”
Een van die uitdagings in die onderwys wat vir hom die moeilikste was, was om elke jaar afskeid te neem van ’n groep matrikulante. “Alhoewel dit moeilik was om te groet, was die terugvoer van ons oud-leerlinge altyd lekker. En as daar ’n groep loop, kom daar net weer ’n nuwe groep entoesiastiese leerlinge in.”
“My aftrede is hartseer vir my, en dit is moeilik om die onderwys vaarwel toe te roep,” het Roos gesê, maar nuwe avonture lê vir hom voor.
Hy beplan om Suid-Afrika plat te toer, en dalk die grens oor te steek en van ons buurlande te besoek.
“Ek het my hele lewe lank al ’n passie vir die natuur, en my groot belangstelling is insekte. Entomologie (insektekunde) was een van my hoofvakke terwyl ek studeer het. Daar is so baie om te leer en dit gaan my nog vir jare besig hou.”
Mnr. Roos sal tot die einde van die jaar aanbly voordat hy finaal groet.
Volg Rekord op Twitter en besoek ons Facebook-blad vir meer nuus.
