Twee vermeende inbrekers, een wat deur ‘n inwoner geskiet is, is vyf ure namekaar in hegtenis geneem nadat hulle afsonderlik by twee huise in die ooste van Pretoria probeer inbreek het.
Die 35-jarige man is Dinsdagaand geskiet toe hy en sy makker glo by ‘n huis in Alphen Park probeer inbreek het.
Kaptein Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, sê die inwoner van ‘n huis in Koelmanstraat het omstreeks 22:00 wakker geskrik toe hy ‘n geraas by sy voordeur hoor. Hy het ondersoek ingestel en twee mans gesien wat besig was om die voordeur oop te breek.
“Die inwoner het twee waarskuwingskote in die rigting van die mans gevuur,” sê Weilbach. Een van die koeëls het een van die inbrekers getref.
“Die Brooklyn-polisie is na die toneel ontbied en die man is met ‘n skietwond by die voordeur gekry. Hy is in hegtenis geneem vir poging tot huisbraak en ontvang tans mediese behandeling in ‘n hospitaal onder polisiewaking.”
‘n Paar uur later is die Brooklyn-polisie na ‘n tweede toneel ontbied waar ‘n huisbraak aan die gang was.
Weilbach sê ‘n 24-jarige inwoner van Farrelstraat in Brooklyn het Woensdagoggend omstreeks 03:30 iets by sy slaapkamervenster gehoor. Hy het opgestaan en twee mans gesien wat besig was om die venster oop te breek. Hy het dadelik die polisie gebel.
“Die Brooklyn-polisie het binne minute gereageer en een van die twee mans in hegtenis geneem ná hy vir die polisie probeer vlug het,” sê Weilbach.
Die 55-jarige man sal op ’n aanklag van poging tot huisbraak in die hof verskyn.
“Die polisie is steeds op soek na die ander twee mans,” sê Weilbach.
Weilbach het dié suksesvolle arrestasies toegeskryf aan gevestigde vennootskappe tussen die polisie en gemeenskap en effektiewe gemeenskapspolisiëringsforums.
Vir jou daaglikse dosis nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.
