MunicipalNews

Oop mangate in Kilnerpark ‘n gevaar

Drie oop mangate in Kilnerpark veroorsaak baie ongelukkigheid.

Vermiste mangatdeksels in Kilnerpark veroorsaak baie ongelukkigheid onder inwoners oor die moontlike gevaar wat hierdie oop mangate kan inhou.

Drie mangate in Magdalena Willersstraat is oop. Aangesien die gate sowat twee meter diep is, is verskeie inwoners bekommerd dat iemand ernstig seer kan kry indien hulle per ongeluk in dié mangate val.

Volgens Francois van der Heyden, opsigter van die Kilner Gardens-woonstelblok, is die mangatdeksels al vir meer as vier maande weg nadat dit vermoedelik vir skroot gesteel is.

“Daar is twee ander mangate voor die woonstelblok en albei se sementdeksels is nog daar, wat vir my sê dat die ysterdeksels wat weg is, vir skroot gesteel is,” het Van der Heyden gesê.

Hy sê daar woon sowat 25 kinders in die woonstelblok en daar is baie kinders wat huis toe loop in die middae, wat verplig is om by hierdie mangate verby te stap.

“Dit is gevaarlik. Wat gebeur as ‘n kind in een van hierdie mangate val? Dit is onaanvaarbaar dat hierdie mangate reeds vir maande nie deur die Tshwane-metro herstel word nie.”

Johan Mostert, een van die woonstelblok se trustees, sê metro moet na skrootwerwe gaan kyk en sien wat alles daar rondlê.

“Om die mense te vang wat die deksels vir skroot steel is om net die simptoom van die probleem te behandel. Hulle moet na die bron van die probleem gaan – die skrootwerwe,” het Mostert gesê.

Metro was teen spertyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Vir meer nuus, volg Rekord op Twitter en besoek ons Facebook-blad.

Lees ook: Oop mangate en riool ‘n probleem

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button