AfriForum het hul aksieplan om die Hennopsrivier skoon te maak bekend gestel. Dié plan vereis dat die gemeenskap betrokke raak in die skoonmaakproses, en dat regeringsamptenare aanspreeklik gehou word.
Die onthulling van die plan is by Leriba Lodge in Centurion gedoen. Dié hotel sukkel ook met die besoedeling en stank wat van die rivier af kom.
Julian Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum en Leandri Streit, provinsiale koördineerder van Gauteng-noord het die Centurion-gemeenskap ingelig oor die stand van die rivier, die oorsake van die besoedeling, en wat die aksieplan om die rivier skoon te maak behels.
· Volgens Streit en Kleynhans is die hoofoorsake van die huidige stand van die rivier as volg: Die Ekurhuleni- en Johannesburg-metro onderhou nie hul infrastruktuur nie en dit veroorsaak dat vullis ophoop en by die rivier afspoel. Pype word ook gereeld verstop omdat dit nie instand gehou word nie, en riool loop dan uit die pype uit en in die rivier in;
· Inwoners in informele nedersettings langs die Hennopsrivier stort gereeld hul rommel in die rivier, weens ’n tekort aan behoorlike vullisverwyderingsdienste, en selfs net asblikke om rommel in te gooi.
· Erosie van rivierwalle veroorsaak dat sand in die rivier afspoel, en sodra dit by die Centurion-meer uitkom, word dit in die meer gestort.
Kleynhans het ook daarop gewys dat die wit skuim wat op die water lê deur fosfate in wasgoedseep veroorsaak word, en dat dit een van die eerste tekens is dat riool in die rivier lek. In die watertoetse wat AfriForum laat doen het, het hulle ook hoë konsentrasies e.coli gevind. Hy het ook daarop gewys dat dié bakterieë verantwoordelik was vir die Bloemhofkrisis in die Noordwes-provinsie, waar drie babas gesterf het nadat hulle water vanaf die Vaalrivier gedrink het.
AfriForum se aksieplan sluit ook in om kriminele klagtes teen die munisipale bestuurder van die Tshwane-metro, Jason Ngubeni in te dien, omdat hy volgens hulle sy plig versuim. Hulle hoop dat dit druk op hom sal plaas om aksie te neem.
Hulle probeer ook om die Hennopsrivier as ’n noodgebied te laat verklaar. Volgens Streit sal dit moontlik miljarde rande beskikbaar stel vir die rehabilitasie van die rivier.
Streit het ook bygevoeg dat hulle beplan om self aksie te neem en die rivier skoon te maak. “Ons gaan ’n klomp skoonmakers aanstel om langs die rivier te loop en alle vullis op te tel. Ons gaan die rekening dan net so aan die Tshwane-metro stuur,” het Streit gesê. Streit en Kleynhans het gesê dat alhoewel AfriForum die aksie lei, moet die gemeenskap ook betrokke wees. “Die beste manier hoe mense betrokke kan raak is deur ons petisie te teken, en as lede aan te sluit. Die geld wat lede betaal word teruggeploeg om die gemeenskap te help,” het Kleynhans gesê.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.
Lees ook: Hennops se water ‘n dodelike gevaar
