MunicipalNews

Gat voor erf ‘n seer oog

‘n Gat wat Tshwane-metro kontrakteurs voor ‘n inwoner se erf oop gelos het, is ‘n seer oog vir die inwoners.

‘n Booysens-inwoner is ongelukkig oor slordige werk van Tshwane-metro-kontrakwerkers voor haar huis toe hulle ‘n gebarste waterpyp herstel het.

Daar is al drie weke lank ‘n gat voor Carol Schoeman se erf. “Hierdie oop gat is ‘n seer oog vir ons. Ons erf lyk slordig. Ek het die mense gebel oor die oop gat, maar niks word gedoen nie. Ek is nie ‘n persoon wat baie kla nie, maar dit is onaanvaarbaar.”

Met die water wat uit die gebarste pyp gelek het, was Schoeman se erf vol water. Haar swembad het oorstroom en die water het amper tot in die huis gekom.

“As ek in my Wendy staan, kan ek die water onder die vloer voel. Nadat die pyp gebars het, het die werkers gesê hulle los die gat oop totdat die grond droog is, dan sal hulle kom om die gat toe te maak. Die grond is droog, maar hulle kom nie uit nie,” het Chris Labuschagne gesê wat by Schoeman woon.

Hy het gesê die eerste keer toe die pyp gebars het, was dit ‘n Saterdag en die metro het eers die Sondag mense uitgestuur om dit te herstel.

“Die pyp het drie keer gebars. Die eerste keer het hulle dit reggemaak, toe bars dit vir die tweede keer. Hulle het dit kom regmaak en toe het dit ‘n derde keer gebars,” het Labuschagne gesê.

Sy vrou Ina het gesê toe die pyp die tweede keer gebars het, was hulle vir ‘n dag lank sonder water.

“Metro-werkers het die water by die hoofkraan in die straat gaan toemaak sonder om ons te laat weet,” het Ina gesê.

Schoeman het gesê baie water is in die proses gemors. Haar man het ook die metro gebel oor waterskade wat hulle gely het, maar niemand kon hom help nie. Sy sê Ina het in die gat geval nadat die pyp gebars het, maar haar seun het haar uitgetrek.

“Ek wag nou vir my waterrekening om te sien hoe hoog dit gaan wees as gevolg van die water wat gemors is,” het Schoeman gesê.

Vir jou daaglikse nuus, besoek Rekord op Facebook en volg ons op Twitter.

Lees ook: Gebarste waterpyp rig groot skade aan

Water loop die straat vol

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button