Groot hoeveelhede onwettige asbes word in Klerksoord op munisipale grond gestoor.
Volgens Demokratiese Alliansie raadslid, Marnette Sutherland, het ‘n haelstorm verlede jaar laekoste-behuising wonings se asbesdakke in Soshanguve beskadig.
Sutherland het gesê dat die beskadigde dakke verwyder is en tydelike seile oor die huise gespan is. Die Tshwane-metro het groot staal rommelbakke op verskeie persele in Soshanguve geplaas, waarin al die vernielde asbesdakke tydelik gestoor is.
Sutherland sê mettertyd het die inwoners ook huishoudelike afval in die bakke begin gooi. Tshwane-metro het om hierdie rede die bakke verwyder en na munisipale grond in Klerksoord verskuif. Dit was veronderstel om ‘n tydelike oplossing te wees, het Sutherland verduidelik.
Hy het gesê dat die bakke steeds op hierdie perseel staan en ‘n gesondheidsrisiko inhou.
Volgens hom is die asbes self ‘n gesondheidsrisiko en wemel dit van die vlieë om die bakke. Sutherland het daarop gewys dat asbes volgens wet ook nie in die oopte geberg mag word nie. Daar is wel ‘n stortingsterrein in Benoni wat aan die regulasies voldoen om asbes te berg, maar omdat daar ook huishoudelike afval in die bakke is, wil dié terrein nie die bakke aanvaar nie.
Sutherland het bevestig dat die metro se departement van vullisverwydering die bakke na die perseel in Klerksoord verskuif het, dat die metro-bestuur van streek 1 bewus is van die probleem en onderneem het om dit binnekort op te los.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook en Twitter blaaie.
