
Die jongste toevoeging tot die rits plakkerskampe noord van Pretoria – in Heatherdale op die hoek van Derde Laan en Boundary-weg – het inwoners behoorlik bekommerd.
“Dit is kommerwekkend dat die plakkerskampe net vergroot. Daar kom al hoe meer inwoners wat meer misdaad veroorsaak,” sê Karlien van Dyk, ‘n inwoner van Pretoria-Noord.
Die voorsitter van die sektor-polisie, Hannes Venter, sê verskeie inwoners van die nuwe plakkerskamp het in 2013 gekwalifiseer om verskuif te word na ‘n residensiële gebied in Soshanguwe uitbreiding 6.
Die woonstrukture wat deur hulle ontruim is, is gou deur nuwe intrekkers beset. Die aantal plakkershutte in die gebied het intussen tot 80 gestyg .
Pretoria-Noord se mense in die omgewing dring daarop dat die inwoners van die plakkerskamp verwyder en verskuif word na die plek van hulle herkoms.
Nog ‘n inwoner Nelanie Snyman sê: “Die enigste manier om ontslae te raak van al hierdie probleem is om die mense terug te stuur na waar hul oorspronklik vandaan gekom het. Die plakkerskampe is ‘n groot gesondheidsrisiko weens die afwesigheid van rioolstelsels.”
Venter sê misdaad soos huisbrake, diefstal, betreding, dwelmhandel, onwettige drankverkope in die omgewing is aan die toeneem.
Akasia-polisiewoordvoerder Riana van Aarde sê die polisie sit met hul hande in hul hare. “Ons kan niks aan die saak doen nie. Ons kan net betrokke raak wanneer daar misdaad of geweld uitbreek.”
Van Aarde sê die Tshwane-metro is die enigste instansie wat iets aan die saak kan doen. Kommentaar van die metro kon nie onmiddellik verkry word nie.
Vir meer nuus, besoek Rekord op Facebook en Twitter.

