Dienslewering swak na storm verwoes
Die storm wat verlede week deur die Moot gewoed het, het verwoesting gesaai en die swak dienslewering van Tshwane-munisipaliteit het die Raadslede van hierdie area moedeloos.
Raadslede van die Moot omgewing is baie bekommerd oor verskeie probleme wat die komende reënseisoen moontlik vir die Moot inhou.
Die nadraai van verlede Saterdagaand se storm het nie net verskeie gebiede sonder krag gelaat nie, maar ook verwoesting gesaai by die laagwaterbrug in Capitalpark.
Elma Nel, Raadslid van Wyk 58, is veral bekommerd omdat so ‘n klein storm soveel skade kon aanrig.
“Hierdie was nie ‘n groot storm nie en behalwe vir die skade wat by die laagwaterbrug in Capitalpark aangerig is, is sommige inwoners van die gebied al vir drie dae sonder krag,” het ‘n moedelose Nel gesê.
Sy voel dat die stadsraad nie genoeg doen om hierdie probleme vinnig op te los nie.
“Daar word geen voorsiening gemaak vir werkers wat na 16:00 in die middae moet werk nie, want daar is geen betaling vir oortyd nie. Alles staan stil en inwoners ly daaronder.”
Die laagwaterbrug het Vrydagaand so erg oorspoel dat die keramiekpotte wat die brug versier gebreek is tydens die storm.
Nel het bevestig dat sy ‘n petisie gaan opstel om die brug te laat opgradeer.
Elmarie Linde, Raadslid van Wyk 54, is net so ongelukkig oor die dienslewering van Tshwane.
“Ek is op die punt om ’n petisie op te stel oor die kragonderbrekings in Wonderboom-Suid. Dit kan net nie so aangaan nie,” het Linde gesê.
Volgens haar is dit swak dienslewering en swak bestuur wat daartoe lei dat kragtoevoer so lank vat om herstel te word.
“Die inwoners is baie ongelukkig en die feit dat hulle dae moet wag om kragtoevoer te kry is onaanvaarbaar.”
Tshwane-munisipaliteit was teen spertyd nie beskikbaar vir kommentaar oor die situasie nie.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
