CrimeNews

Drie diewe bind glo huishulp vas, plunder huis

'n Tuinjong het glo Maandagoggend 'n huishulp vasgebind en saam met sy twee makkers die huis besteel.

Drie diewe het Maandagoggend op ‘n huis in Wierdapark toegeslaan, ‘n huishulp met telefoonkabels vasgebind en die huis van hoek tot kant geplunder.

Die eienaar van die huis in Koedoestraat, Bennie van Dyk, vermoed dit was die tuinjong en sy twee makkers wat hom besteel het.

Van Dyk sê die man het omstreeks 08:30, toe hy reeds op pad werk toe was, die huishulp gebel om vir hom die hek oop te maak.

Hy het glo vir haar gesê hy het klere daar vergeet.

“Die man het vir ‘n paar maande tydelik vir my gewerk terwyl ek met aanbouings aan my huis besig was,” het Van Dyk gesê.

“Hy was onlangs hier om geld te leen. Ek het nie vir hom geld gegee nie en vir hom gesê dat hy my Saterdag weer kon uithelp.”

Van Dyk sê die huishulp het die hek oopgemaak en was op pad om wasgoed op te hang toe die man en sy twee handlangers haar in die tuin oorval het.

“Die mans het haar na die kombuis geneem en haar hande en voete met kabels vasgebind. Haar mond is met kleefband toegeplak,” het hy gesê.

Die mans het die huis geplunder en alles van skootrekenaars, ‘n rekenaar, mikrogolfoonde, en oorsese versamelaarsmunte uit ‘n raam teen ‘n muur gesteel.

Drie TV’s is van die mure afgeruk en ’n matras is ook gesteel.

Die mans het die gesteelde items in ‘n wit Mazda-bakkie gelaai en weggery.

Die huishulp het skreeuend na haar kamer gekruip en haar man en Van Dyk ontbied.

Die mans was glo net met ‘n skroewedraaier gewapen.

Die Wierdabrug-polisie ondersoek die saak.

Vir meer gratis nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button