Sekuriteitskontrakte rondom stad-infrastruktuur verval
Die stad se kritieke infrastruktuur verkeer reeds onder druk met kabeldiefstal en vandalisme. Die DA eis antwoorde oor die beskerming van munisipale bates, terwyl die stad sê interim maatreëls is ingestel.
Die metro se vorige sekuriteitskontrakte het op 30 September verval, wat vrae laat ontstaan oor die beskerming van die stad se kritieke infrastruktuur, insluitend Wonderboom-lughawe, kragstasies en ander munisipale terreine en geboue.
Die DA het op 2 Oktober die metrobestuur oor die beëindiging van die kontrakte gekritiseer en gevra dat dringende maatreëls ingestel word om infrastruktuur teen moontlike kriminele aanvalle en ongemagtigde toegang te beskerm.
Die party se hoofsweep in Tshwane, raadslid Dana Wannenburg, het gesê hy het op 4 Oktober by Wonderboom-lughawe in- en uitgery en was bekommerd oor wat hy beskryf het as ’n gebrek aan sigbare sekuriteit en doeltreffende toegangsbeheer.
“Ek het geen betekenisvolle sekuriteitsbeheer gesien nie,” het Wannenburg gesê.
Volgens Wannenburg is Wonderboom-lughawe ’n belangrike munisipale bate wat meer tientalle lugvaartondernemings huisves en jaarliks meer as 148 000 vliegtuigbewegings hanteer.
“Dit is eenvoudig onaanvaarbaar,” meen hy.
Wannenburg het gesê soos die stad se vorige sekuriteitskontrakte het die kontrak ook vir Wonderboom-lughawe (eiendom van die metro) verstryk en dat die metropolisie se betrokkenheid by interim reëlings vir die lughawe se beskerming nie opsigtelik is nie.
Hy het gevra waarom daar nie reeds vervangende sekuriteitsreëlings in plek was toe die kontrakte verstryk het nie.
Die DA het ’n onmiddellike sekuriteits-assessering van Wonderboom-lughawe, besonderhede oor die interim sekuriteitsreëlings en ’n verduideliking van die stadsadministrasie geëis.
Die kwessie strek egter verder as Wonderboom-lughawe.
DA koukusleier in Tshwane, Cilliers Brink, sê nuwe ooreenkomste of voldoende gebeurlikheidsmaatreëls is nie in plek vir kritieke metro-bates nie.
Hy voer aan dat die vervaldatum van ’n kontrak voorspelbaar is en dat die stad dus genoeg tyd gehad het om nuwe sekuriteitsreëlings te tref.
Volgens Brink het die DA die stadsbestuurder, Johann Mettler, op 2 Oktober versoek om onmiddellik op te tree om kritieke infrastruktuur te beveilig.
Brink voeg by dat die stad se versuim om ’n nuwe verkrygingsmodel betyds te finaliseer, die moontlikheid skep dat bestaande probleemkontrakte weer verleng kan word.
Hy sê die vorige burgemeesterskomitee het gedurende sy termyn besluit om saam met die Universiteit van Pretoria aan ’n nuwe verkrygingsmodel vir sekuriteitsdienste te werk.
Hy vra dat burgemeester dr. Nasiphi Moya verduidelik waarom die hervorming wat tydens sy administrasie begin is, nie voortgesit is nie.
Die DA het private sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte gevra om intussen rondom kritieke infrastruktuur te patrolleer.
Brink sê egter inwoners en vrywilligers kan nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid vir die beveiliging van sy infrastruktuur oorneem nie.
Die metro het op 2 Oktober gesê die beëindiging van die vorige kontrakte beteken nie dat kritieke infrastruktuur sonder beskerming gelaat is nie.
Raadslid Hannes Coetzee, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het gesê die aanstelling van nuwe diensverskaffers het langer as verwag geneem weens voorsieningskettingprosesse wat nog gefinaliseer word.
Die metropolisie koördineer volgens Coetzee verhoogde interim-sekuriteitsmaatreëls, insluitend die ontplooiing van metropolisielede om kritieke munisipale bates en infrastruktuur te beskerm.
Hy het ook gesê die metropolisie werk saam met private sekuriteitsmaatskappye wat vrywillig aangebied het om die stad gedurende die oorgangstydperk by te staan.
Volgens die metro sluit dié ondersteuning verhoogde toesig en tegnologiese maatreëls in om kritieke infrastruktuur te monitor en die metro se veiligheidsreaksie te ondersteun.
“Die stad verwerp misleidende pogings deur die opposisie om onnodige paniek oor die veiligheid van kritieke infrastruktuur te skep,” het Coetzee gesê.
Hy het gesê bewerings dat die metro sy infrastruktuur se beskerming laat vaar het of dat geen gebeurlikheidsmaatreëls ingestel is nie, is verkeerd.
Volgens Coetzee ontvang die burgemeesterskomitee en senior administrasie gereelde operasionele terugvoer oor die sekuriteitsituasie en koördineer hulle hulpbronne en vennootskappe wat nodig is om munisipale infrastruktuur te beskerm.
Die interim-maatreëls sal volgens hom van krag bly totdat die aanstelling van nuwe diensverskaffers afgehandel is.
Die geskille oor sekuriteit kom te midde van verhoogde aandag aan die metro se kritieke infrastruktuur nadat wydverspreide kragonderbrekings inwoners en ondernemings vir meer as drie dae aan die einde van September geraak het.
Die DA het die stad se bestuur van sekuriteitskontrakte en infrastruktuurbeskerming bevraagteken, terwyl die metro daarop aandring dat beskermingsmaatreëls gedurende die oorgang gehandhaaf word.
Kliek hier om ’n video van Wonderboom-lughawe te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel