CrimeLocal newsNews

Man vermoedelik agtervolg voor rooftog

'n Man van Ninapark is onlangs by sy huis beroof nadat hy 'n groot bedrag geld by 'n bank in Wonderpark gaan trek het.

‘n Man en vrou van Ninapark lewe in vrees nadat vyf gewapende mans hulle Donderdagmiddag van sowat R 70 000 beroof het.

Volgens Linda Swanepoel het haar man, Swannie, omstreeks 11:00 Donderdagoggend na ‘n bank in Wonderpark Winkelsentrum gegaan om R 64 000 se kontant te trek om vir hul kinders te gee.

Toe hy voor sy huis stop het ‘n motor agter hom gestop, ‘n man het ‘n rewolwer teen Swannie se kop gedruk en hom uit die kar gepluk.

“Hulle het reguit vir die geld gegaan en sy beursie met sowat R 6 000 gevat. Intussen het ’n werker van die tuindienste wat op ons erf besig was, nader gestap en hulle het hom beveel om saam Swannie op die grond te lê,” het Linda gesê.

Volgens Swannie het een van die mans vir hom en die tuinier gesê: “As julle julle koppe oplig skiet ek!”

Die mans het voordat hulle in ’n motor gespring en weggejaag het, ook Swannie se bakkie se wiele stukkend gesteek en sy foon en motorsleutels gevat.

“Ons het my beursie op die hoek van Rachel de Beerstraat en die Mabopanehoofweg gevind en die huissleutels ook teruggekry, maar ons kon nog nie die motorsleutels opspoor nie,” het Swannie gesê.

Die Swanepoels lewe in vrees dat die rowers gaan terugkom om die bakkie ook te steel.

Linda glo vas dat die rowers geweet het haar man sou soveel geld by hom gehad het, want daar was verskeie geskenke vir hul kinders wat oop en bloot op die motor se agtersitplek gelê het waarna die rowers nie eers na gekyk het nie.

“Ek dink regtig dat ‘n informant vir hierdie rowers gesê het dat ons soveel geld gaan trek, want ek en Swannie het die vorige dag na die bank gegaan om die geld aan te vra en hulle het vir ons gesê om dit Donderdag 11:00 te kom haal. Ek glo vas dat die motor my man van die winkelsentrum af gevolg het,” het Linda gesê.

“Ek is baie bly dat niemand geskiet is nie, maar dit bly vir my ‘n vreemde voorval,” het Swannie gesê.

Volgens Kaptein Riana van Aarde, woordvoerder van die Akasia-polisie, word ‘n saak van gewapende roof ondersoek.

Van Aarde maan die gemeenskap om paraat te wees en eerder elektroniese oorbetalings te maak waar moontlik.

“Soortgelyke gevalle gebeur van tyd tot tyd maar dit is nie ‘n algemene tendens in die area nie,” het Van Aarde gesê.

Volgens haar is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button