Kenner praat oor bipolêre depressie by kinders
'n Kenner het met Rekord gesels oor die impak van Bipolêre depressie op kinders.
Bipolêre depressie by kinders is ‘n siekte deurspek met risiko’s, sê ‘n kenner wat genader is na die selfmoord van ‘n 12-jarige seun by die Gereformeerde Skool Dirk Postma in Waverley Maandagoggend.
Die seun was ‘n depressielyer vir etlike jare.
‘n Kundige in kinderberading en geestesgesondheid, Professor Marlize Snyman, sê hoewel bipolêre depressie meerendeels by jong volwassenes voorkom, word kinders ook deesdae daarmee gediagnoseer.
“So ‘n kind beplan dikwels selfmoord in sy gedagtes tydens ‘n laagtepunt wanneer energievlakke gedreineer is en hy intense hartseer ervaar, maar het nie altyd die dryfkrag om die selfmoord deur te voer nie,” sê Snyman.
“Selfmoord in hierdie geval kom gewoonlik as ‘n groot skok omdat dit plaasvind tydens die kind se maniese of opgetoë episode wanneer ouers dink hy is buite gevaar omdat hy vol energie en vrolik voorkom.”
Maar in die maniese fase toon so ‘n kind dikwels ook swak oordeel, kry min slaap en is geneig om nie te dink aan die gevolge van waaghalsige aksies nie. Boonop het hy dan die energie om dit deur te voer waarmee hy in sy gedagtes rondgespeel het.
“Ouer tieners en jong volwassenes is, ten spyte van hul swak oordeel, dikwels nog in staat om te redeneer en druk deur in daardie oomblik van ‘swakheid’. Die kind het nie noodwendig daardie sin van verantwoordelikheid, toekomsvisie of oordeel oor die impak van sy of haar aksie nie.”
Snyman waarsku dat ouers nie te gerus moet raak wanneer die kind uit die donker dal van depressie is nie. Benader die depressiewe en maniese kant met dieselfde behoedsaamheid, sê sy.
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
Lees ook:
Gesin en skool getraumatiseer deur selfmoord
Kind hang hom by Pretoria laerskool
