Hoërskool Waterkloof se netbalster, Bernike van Dyk, het onlangs die besondere eer te beurt geval om nie net vir die nasionale o.17-span gekies te word nie, maar ook as die span se kaptein aangewys te word.
Dié span het boonop puik presteer deur in Europa ’n internasionale toernooi te wen, waar hulle met die o.17-spanne van lande soos Portugal, Spanje en Engeland afgereken het. Van Dyk is na dié toernooi heelwat lof toegeswaai vir haar puik spel as hulpverdediger sowel as vir haar uitstaande leierskap.
Dié prestasie van haar is egter maar een van verskeie op die sportveld. Sy het sedert haar laerskooldae gereeld provinsiale kleure in netbal ontvang en blink jare lank uit op die netbalbaan.
Netbal is egter nie die enigste sport waarin sy presteer nie. Van Dyk is ’n puik sewekamp atleet wat vanjaar ’n brons medalje op die junior Suid-Afrikaanse kampioenskappe verower het.
Vir ontspanning speel sy gholf saam met haar pa en ook in dié sport toon sy groot belofte.
Kenners is gaande oor haar potensiaal op die netbalbaan en sy word beskou as ’n toekomstige nasionale ster. Van Dyk glo self dat sy beslis ’n loopbaan van sport wil maak en wil na skool in ’n sportrigting studeer. Sy is opgewonde oor die nuutste ontwikkelings in Suid-Afrikaanse netbal en hoop om die kans te kry om oor ’n paar jaar in ’n professionele liga te kan speel.
Hoewel die eksamen op skool nou haar eerste prioriteit is, droom Van Dyk intussen om soos haar sporthelde, die sewekamp atleet Jessica Ennis of die netbalster Erin Burger (ook ’n oud-Klofie) haar sporttalent oor die wêreld te kan uitleef.
