Editor's choiceLocal newsNewsSport

Gordyn sak oor Bakkies se roemryke loopbaan

Bakkies Botha tree uit internasionale rugby as een van die suksesvolste spelers wat Suid-Afrika in die moderne era opgelewer het.

Een van die heel grootste geeste van die moderne era in Suid-Afrikaanse rugby het die afgelope naweek aangekondig dat hy nie weer in die Groen en Goud gesien sal word nie.

Ná 85 toetse in die Springboktrui, het Bakkies Botha besluit om halt te roep en verklaar dat hy verheug is om die spel op internasionale vlak op sy eie terme vaarwel te roep.

“Ek tob al oor hierdie besluit sedert ek my weens ’n besering aan die vorige wêreldbekertoernooi moes onttrek,” het Botha die afgelope naweek gesê. Maar hy wou nie op daardie ongelukkige noot groet nie.

Bakkies sê hy is dankbaar vir die geleentheid wat hy gekry het om die afgelope twee seisoene weer deel van die Springbokspan te wees. Hoewel hy net ’n skadu is van die speler wat hy aan die einde van die vorige dekade was, het hy die afgelope twee seisoene steeds ’n belangrike rol gespeel in die Springbok groep.

Hy kon mentor wees vir jong Turke soos Eben Etsebeth en Lood de Jager, wat albei geoormerk is om in die toekoms Botha se rol as die “harde man” onder die Springbok voorspelers te wees.

Die 35-jarige John Phillip (Bakkies) Botha kan met reg beskou word as een van die suksesvolste rugbyspelers in die geskiedenis van professionele rugby in Suid-Afrika. Saam met Victor Matfield, hou hy die wêreldrekord vir die meeste toetse as ’n slotkombinasie. Dié twee veterane het al 63 keer saam as slotpaar in die Springbokskrum gesak.

Botha het elke moontlike trofee ingepalm wat ’n professionele speler in Suid-Afrika kan wen, terwyl hy in Europa ook goue medaljes in twee van die belangrikste toernooie verower het.

Sedert 2001 het Botha die Vodacombeker, die Curriebeker (verskeie), die SuperRugby trofee (twee keer), die Drienasies Trofee, ’n reeksoorwinning teen die Britse en Ierse Leeus en die Wêreldbeker gewen. Aan die einde van 2011 het hy in Frankryk vir Toulon gaan speel en saam met dié klub het Botha ook sukses gesmaak in die Heinekenbeker (Top Europese klubs) en in die Franse Top14 liga.

Hoewel Botha in sy loopbaan soms omstrede was en daarvoor bekend was dat hy geen genade getoon of verwag het nie, is hy onder sy vriende bekend as ’n ware spanman en ’n rustige persoon. Sy liefde vir die Bosveld is bekend en hy het al gesê hy kan nie wag om met sy lewe as boer voort te gaan wanneer hy aan die einde van die huidige Europese seisoen finaal sy rugbystewels ophang nie.

Bakkies Botha sal onthou word as ’n ware rugbylegende en hy is inderdaad reeds ’n legende in sy eie leeftyd. Wat mense ookal van hom dink, niemand sal kan ontken dat dié reus van ’n man daarin geslaag het om as klipharde rugbyspeler een van die kultusfigure van dié sport in die wêreld te word nie.

Vir gratis nuus besoek Rekord se webtuistes: 

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button