Jong swemmer presteer
Die 12-jarige Nicolene Naudé van die Laerskool Pierneef toon groot belofte as swemmer.
Suid-Afrika se beste vroue-swemmers kan maar kennis neem van die naam Nicolene Naudé, want oor ’n paar jaar mag hulle dalk langs haar aantree by top byeenkomste.
Naudé se prestasies in die swembad dui beslis daarop dat sy op pad is om ’n ster te word. Dié 12-jarige graad ses leerling van die Laerskool Pierneef, het by haar skool se onlangse gala vier goue medaljes ingepalm toe sy al vier die induvuduele kompetisies in borsslag, rugslag, flinderslag en vryslag gewen het.
By die daaropvolgende Hillcrest swemgala vir laerskole het sy die rugslag item gewen en die bronsmedalje in vryslag verower.
Naudé is later deur haar skool vereer met die toekenning vir beste prestasie deur ’n senior dogter. Om alles te kroon is sy boonop ’n slimkop wat ook akademiese kleure ontvang het vir ’n gemiddeld van hoër as 80%. Wat kultuur betref bly sy ook nie agterweë nie, want sy het in die skool se senior koor gesing.
Dié belowende jong swemmer het haar talent waarskynlik by haar pa, Hennie, geërf. Hy het in sy jonger dae ook provinsiale kleure as swemmer verwerf.
