Skool rou oorlede onnie
Onderwyser van Centurion sterf terwyl hy vraestelle nasien.
Hannes Pretorius (53), meganiese tegnologie-onderwyser by Hoërskool Centurion is gistermiddag aan ‘n hartaanval oorlede.
Hy was besig om matriekvraestelle by Pretoria High School for Girls na te sien toe hy ‘n hartaanval gehad en by dié skool dood is.
“Daar was geen teken dat hy iets makeer het nie. Hy was net besig om vraestelle te merk toe hy ‘n massiewe hartaanval gekry het. Dit is ‘n groot slag vir al die onderwysers by die skool. Die werklikheid het nog nie by een van ons hier by die skool ingesink nie,” sê die adjunkhoof van Hoërskool Centurion, Jeanette van Staden.
Volgens Van Staden was hy deur sy leerlinge en kollegas geliefd en gerespekteer. “Hy was so ‘n dinamiese onderwyser. Hy was ‘n graadvoog en hoof van sy vak. Daar is min onderwysers in sy veld en min wat so bekwaam was.”
Pretorius was sowat sewe jaar by Hoërskool Centurion en het ‘n groot impak op sy leerlinge gemaak. Hy het moeite gedoen om seker te maak dat elkeen in sy klas goeie punte behaal.
Intussen sal een van die wiskunde-onderwysers by die skool aflos en in die nuwe jaar Pretorius se vak aanbied tot ’n plaasvervanger aangestel kan word.
Daar sal op Maandag 15 Desember om 10:00 ‘n gedenkdiens vir Pretorius by die skool gehou word. Sy mede-onderwysers en van sy matriekleerlinge sal dit bywoon.
Pretorius laat sy vrou en ‘n dogter op universiteit agter.
Vir gratis gemeenskapsnuus besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ons Facebook-blad en volg ons op Twitter.
Lees: Centurion teacher dies while marking
