
Stormsterk wind, met gepaardgaande hael en gietende reën het laat Sondagmiddag ‘n spoor van verwoesting gesaai waarin daar volgens ‘n polisie-woordvoerder sowat 50 bome in Pretoria-Noord ontwortel, en een huis en ‘n sake-onderneming se dakke afgewaai is.
Die ergste skade was in Bakenkloof-, Wes-, Stasie-, Eeufees- en Wonderboomstraat. Tshwane-metronoodwerkers en parke-afdelingpersoneel het deur die nag gewerk en omgewaaide bome opgesaag en weggesleep te kry, toe paaie versper is. In hul pogings om die strate weer rybaar te maak, is hulle ook deur die polisie gehelp.
“Ons was nie regstreeks betrokke by die wegsleep van die ontwortelde bome nie. Ons het net met die verkeer gehelp. Na skatting is daar sowat 50 bome deur die wind omgewaai,” het ‘n polisieman wat gister deur die gebied gery het, vertel.
Maria Liversage het gesê sy het nog nooit so ‘n sterk storm beleef nie. “Die reën het omstreeks 19:00 verwoed uitgesak. Dit is gevolg deur ‘n haelbui. Toe was daar ‘n oomblik van verposing voor dit met mening uitgesak het. Die geraas van die reën en hael was so erg dat ek nie eers gehoor het toe die boom voor my perseel omgeval het nie,” het Liversage, wat op die hoek van Eeufees- en Wonderboomstraat woon, vertel. Sy het geen skade aan haar eiendom gehad nie.
Lodewyk de Jager wat in Stasiestraat woon, was egter nie so gelukkig nie. ‘n Reuse koorsboom in sy erf het omstreeks 19:00 in twee geskeur en die hele pad versper. Werkers het kort na die boom omgeval het, begin om dit in stukke te saag en het eers omstreeks 04:00 Maandagoggend die pad vir verkeer oopgestel.
“Die reën en hael het oorverdowend geval. Toe die groot koorsboom in my tuin skeur, het ek dit nie gehoor nie want met die weerligstrale het ek en my mense weg van die vensters gebly. Dit is eers toe my kleinseun die huis instorm en my vertel dat die boom omgeval het, dat ek daarvan bewus gemaak is. Met die een deel van die boom wat nog staande is, leef ek nou in vrees dat dit op die huis se dak kan val, want die boom is nou geweldig verswak en dit kos net ‘n ligte rukwindjie om dit te laat omval. Ek wag nou vir die metro om dit ook af te saag,” het hy gesê.
Die rukwind het Tjaart van der Walt se paneelkloponderneming in Wonderboomstraat se dak afgewaai en sy skadunetparkering lê ook in ‘n hoop verflenterde nette en pype.
Etlike inwoners soos Eurita van der Merwe van Wonderboomstraat het gister verslae na hul baksteenheinings gekyk wat deur die wind omgewaai is.
Dirk van der Linde, ‘n inwoner van Wesstraat, het gesê dat hy Sondagmiddag kort voor die reën sy reënmeter leeggemaak het. Maandagoggend het dit oorgeloop. “In die bestek van ‘n halfuur het ons 86mm reën gehad. Dit was een van die ergste storms wat ek nog beleef het,” het hy gesê.
Onderstepoort-veeartsenykunde se hoof administratiewe blok, is deur die weerlig getref. Die instansie se hoofrekenaar en verskeie ander rekenaars asook hul telefoonsentrale in die gebou is deur die weerlig getref en beskadig.
Die volgende areas is ook geraak deur die storm:
– Dorandia,
– Theresa Park
– Wolmer
– Tileba
– Haakdoorn
Tshwane Metro tegnici is tans besig om nog skoon te maak. Elektrisiteit kan geaffekteer word in sekere areas.
Indien jy ‘n problem in jou area ervaar met elektrisiteit wat nog nie aan is nie, SMS die woord power en jou rekeningnommer na 44676 of 082 612 0333. Jy kan ook ‘n kragprobleem aanmeld op 012 358 9999 deur opsie 3 te kies.
Vir gratis nuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
