Nuwejaar se uitdagings
Dit is met groot nadenke dat ek hier om en by Kerstyd weer die Rubaiyat van Omar Khayyam gelees het en op dié kwatryn afgekom het: Die dag van môre kan jy nie oorskou, Wat vir môre is, is vir môre behou. Geniet met ‘n lag, geniet met ‘n sug Die onverwinbare uur van vandag. …

Dit is met groot nadenke dat ek hier om en by Kerstyd weer die Rubaiyat van Omar Khayyam gelees het en op dié kwatryn afgekom het:
Die dag van môre kan jy nie oorskou,
Wat vir môre is, is vir môre behou.
Geniet met ‘n lag, geniet met ‘n sug
Die onverwinbare uur van vandag.
Waarom dit my bygebly het, is omdat na die fanfare van Kersfees, die byna doodeet, die uitbundige spattigheid van die oujaar afsien en die nuwejaar inwag, daar ook ‘n oomblik is van ‘boeke opmaak’. Om te wonder hoe jy die sondes van die oujaar in die nuwejaar kan besweer. Soos byvoorbeeld om op te hou rook of te verslank of om beter te presteer.
Ja, elkeen het sy eie nuwejaarvoorneme of missie. Die rookstorie is my persoonlike missie vir vanjaar en slaag ek nie daarin in, sal ek dit dan maar met ‘n sug geniet.
Feit is, daar is nie een mens wat ek ken wat nie kan sê dat hy een of ander toets in die jaar gedop het nie – hetsy dit persoonlik of in werkverband is. In dié opsig is ons seker maar almal soos die Noordwes-mielieboer wat na ‘n droë jaar net die saad teruggekry het wat hy geplant het. Hy is teleurgesteld dat hy nie ‘n wins kon maak nie, maar jubel steeds omdat hy nie weer saad hoef te koop nie.
‘n Ander aspek van die kwatryn is die verwysing na die onherwinbare uur van vandag. In ‘n tydvak waarin die elektronika – televisie, slimfone, ipods, rekenaars en tablette – as’t ware persoonlike tyd ‘gesteel’ het, het die outydse in-die-oë-kyk kuier byna verdwyn, want ons ‘skype’ mos nou sommer.
Gehalte-tyd met mense wat na aan jou is, het vir my ‘n hoër premie gekry. So ook die bewustelike tydbesteding aan iets wat na aan jou hart is of jou medemens se lewe positief raak, al sou dit net ‘n vriendelike glimlag of ‘n opreg bedoelde kompliment wees.
Miskien sal daar met die regte gebruik van die onherwinbare uur aan die einde van 2015 minder mislukte doelstellings wees om te besweer.
Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
