Tweelinge maak geskiedenis
Vanjaar is daar verskeie skole in Pretoria wat met tweelinge spog.
Minstens 14 tweelinge is vanjaar vir die eerste keer skool toe in Pretoria.
Laerskool Elarduspark pronk met die meeste en het geskiedenis gemaak met nie minder nie as sewe tweelinge wat hierdie week vir graad 1 ingeskryf het.
In Laerskool Pierneef is daar vier tweelinge wat hierdie jaar graad 1 toe is, terwyl Laerskool Villieria met drie tweelinge in sy graad 1-klasse spog.
Caroline Janse van Rennburg, adjunk-hoof van Elarduspark se grondslagfase, sê die sewe tweelinge is ‘n nuwe rekord vir die skool.
“Die naaste wat ons nog daaraan gekom het in die skool se geskiedenis was ses tweelinge in 1987.”
Vir Janse van Rensburg persoonlik is hierdie ook ‘n eerste in haar 42 jaar as onderwyser.
Die sewe tweelinge vorm deel van sowat 180 leerlinge wat hierdie jaar die agt graad 1-klasse vol sit. Hulle is volgens hul ouers se voorkeur opgedeel in hierdie klasse.
“Nie al die tweelinge is in dieselfde klas nie. Ons het hulle geplaas soos die ouers verkies het,” sê Janse van Rensburg.
Vir meer nuus, besoek Rekord se Facebook-blad of volg ons op Twitter.
