Al die Affies vier verjaardag
Die meisies en seuns van Affies het onlangs saam verjaardag gevier.
Die Afrikaans Hoër Seunskool (AHS) en Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) het hul gesamentlike 95ste bestaansjaar hierdie week met ‘n tradisionele optog gevier.
Dié skole, die enigste enkelgeslag Afrikaanse hoërskole in Gauteng, het Woensdag bymekaar gekom by Burgerspark om meer as drie kilometer te stap na die Afrikaans Hoër Meisieskool, wat die oudste skoolterrein het.
Die doelwit was nie net om die stigters van die skool te gedenk nie, maar ook om die band tussen die twee skole se geskiedenis te bevestig.
Pierre Edwards, skoolhoof by AHS, en Marna Jordaan, skoolhoof by AHMP, het gesê die twee skole vier sedert 1955 elke vyfde jaar hul verjaardag met die staptog saam.
“Dis ‘n baie emosionele oomblik vir ons en ons maak ‘n punt daarvan om dit elke vyf jaar te vier,” het Edwards gesê.
Jordaan het bygevoeg: “Dit is ‘n viering en ‘n jubelende geleentheid vir ons dat die kinders die dag nog as belangrik ag, selfs in dié moderne tye. Dit is wonderlik.”
Hoofseun Anrich Stander en hoofmeisie Elzanne Kelbrick het gesê dit was vir hulle ‘n voorreg om deel te kan wees van die skool se 95ste bestaansjaar.
“Die algemene gees van die skool is ongelooflik en dit is ‘n eer om nie net deel van die skool en sy tradisies nie, maar ook deel van die koshuis te wees. Ons het ‘n gesegde by die skool: ‘ek het familie wat nie bloed is nie’,” het Stander gesê.
Kelbrick het dit beaam.
“Dit is ‘n gesegde by ons ook. Die ‘Affiessussie’ is ‘n susterskap waaraan al die leerlinge hier by ons behoort. Ek het self in Graad 8 baie geleer van die matriekleerlinge en ek sal die tradisies hoog hou. Dit is ‘n ongelooflike ondervinding om deel te kan wees hiervan.”
Die eerste skool – voordat die seuns en die meisies geskei is – is op 28 Januarie 1920 in die huis van Generaal Piet Joubert in Visagiestraat gestig, met 18 meisies, 26 seuns en drie personeellede.
Vandag het die twee skole gesamentlik sowat 2 400 leerlinge.
Vir gratis gemeenskapsnuus in jou area, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook blad en volg ons op Twitter.
