Talle skoliere van Waterkloof Rif en Monumentpark wat daagliks die voetgangerbrug oor die N1-snelweg na die Hoërskool Waterkloof in Pretoria gebruik, moes Donderdag en Vrydag met ompaaie by die skool kom.
‘n Vragmotor het Woensdag omstreeks 7:00 teen een van die steunpilare van die brug vasgery en dit lewensgevaarlik gemaak.
Die Tshwane-metro was vinnig om altwee kante van die brug met ‘n palisade heining toe te sweis.
Johan Pieterse, woordvoerder van Tshwane-nooddienste, sê die kortpad na die skool sal toe bly totdat dit herstel en weer veilig is.
“Ons het dadelik ‘n strukturele ingenieur gebel wat die brug ondersoek het en op sterkte van sy aanbeveling is die brug nou om veiligheidsredes aan beide kante toegesweis,” het hy gesê. “Die brug sal vir ‘n onbepaalde tyd gesluit wees.”
Pieter de Bruin van Monumentpark, wat gereeld die voetgangerbrug as kortpad winkels toe gebruik, sê die sluiting van die brug veroorsaak groot probleme vir voetgangers.
“In Hans Strijdomweg is daar nie juis ‘n voetgangerpad oor die brug nie en daarom het voetgangers van dié voetgangerbrug gebruik gemaak. Dit was gerieflik. ‘n Mens kan maar net hoop dat dit vinnig herstel word.”

Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.
