VIDEO: Bleskopman steel petrol
'n Man is op 'n kringtelevisiekamera betrap waar hy brandstof in sy voertuig gooi en wegry sonder om te betaal.

‘n Bleskopman is op ‘n kringtelevisiekamera by ‘n vulstasie in Constantia Park betrap waar hy R400 se brandstof in sy voertuig gooi en sonder om te blik of te bloos wegry sonder om te betaal.
Die eienaar van die Constantia Motors-vulstasie, Gerhard Erasmus, sê die man, vermoedelik in sy laat dertigs, het verlede Vrydag by die vulstasie stilgehou en ‘n petroljoggie gevra om brandstof in sy BMW te gooi.
Hy het sy enjinkap oopgemaak terwyl die petroljoggie die voertuig volgemaak het en die olie begin nagaan.
Erasmus sê die man het ‘n paar keer die doopstok ingedruk en weer uitgetrek voordat hy die petroljoggie gevra het om vir hom olie te gaan haal.
Die beeldmateriaal wys hoe die petroljoggie wegstap en die man, kort nadat hy sy rug draai, die enjinkap toemaak, in die BMW klim en doodluiters wegry.
Erasmus het ‘n klag by die Brooklyn-polisiekantoor gelê.
Die man was teen Maandag nog nie in hegtenis geneem nie.
Vir meer plaaslike nuus besoek Rekord se webtuistes:
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
