Local newsNews

Mootstories leef in harte en nou op silwerskerm

Die première van Die Moot: die dokumentêre film oor die mense, geskiedenis en identiteit van Pretoria se Mootgebied, het op 26 September by Hoërskool Oos-Moot se rugbyveld saam met 'nmusiekfees plaasgevind. Die film wys hoe inwoners, kunstenaars en buitestaanders die gemeenskapsverhale na waarde skat.

Die première van die dokumentêre film Die Moot het op 26 September op die rugbyveld van Hoërskool Oos-Moot plaasgevind. Die film fokus op die mense, geskiedenis, kultuur en gemeenskapslewe van die Moot en vertel die nostalgiese verhaal van ’n gebied wat vir baie inwoners veel meer as net ’n geografiese plek geword het.

Wat is ‘n filmvertoning nou sonder springmielies? Angelique Kotze het gesorg dat die springmieliekardoese vol bly. Foto: Elize Parker

Die eerste skote vir die dokumentêr is reeds tien jaar gelede geneem. Beelde van jakarandabome vorm deel van die visuele begin van ’n projek wat uiteindelik deur filmmakers Harry Botha en Karlien Delport-Botha oor twee en ’n half jaar ontwikkel, vervaardig en geredigeer is.

Mina du Plessis, Milanie Burger, Karlien Delport-Botha en Alma Delport. Foto: Elize Parker

Die Bothas het 14 jaar gelede na die Moot verhuis en het Biltong Media gestig. Volgens Karlien het dit nie lank geneem voordat sy besef het dat die Moot en die mense van die Moot ’n besondere identiteit het nie.

“Ons het gou geweet die Moot is meer as net ’n plek en Harry het reeds vroeg aan die hand gedoen dat ons ‘n film maak. Die Moot en die film is ‘n hartsding” sê sy.

Vir die twee bedrewe filmmakers gaan die dokumentêr oor wat dit beteken om aan ’n plek en sy mense te behoort asook oor die opvallende verdraagsaamheid tussen die inwoners.

“Die Moot gaan oor iets groters as jy. Hier hoef jy nie energie te gee om in te pas of aan te pas nie,” vertel Harry.

Die Moot en sy inwoners word in die film ook gebruik as ’n vergrootglas waardeur daar gekyk word na hoe gesonde gemeenskappe funksioneer, hoe buurmanskap ontstaan en hoe mense mekaar ondersteun.

Die span agter die film het verskillende vaardighede bymekaargebring om die projek te voltooi. Die dokumentêr bevat onderhoude, musiek en persoonlike stories van mense wat in die Moot woon of voorheen daar gewoon het asook ‘n geskiedkundige blik.

Van die inwoners wat in die film verskyn, is Navin Vasudev en Neal McKenna. Verskeie bekende Suid-Afrikaners vertel ook van hul verbintenis met die Moot. Onder hulle is die musikant en komediant Peach van Pletzen, wat die Moot beskryf as “die middel van die wêreld”, asook die radiopersoonlikheid Diane Broodryk en skrywer Dirk Jordaan.

Musiek speel ’n belangrike rol in die dokumentêr. Die Moot het oor die jare ook in populêre kultuur en liedjies opgeduik, onder meer in werk van Dirk Jordaan en Leon Gropp. Die film bring verskeie sulke kunstenaars bymekaar wat in die Moot woon of daar grootgeword het.

Die film word ingelei met die liedjie, “Vroeoggend in die Moot”, oorspronklik geskryf deur Nardus du Plooy van die Kaalkop Waarheid.

Brenda Burnit, Dagmar Noome en die Hollow Body-orkes is onder die kunstenaars wat by die musiekfees voor die filmvertoning opgetree het.

Sanger Tuin. Foto: Elize Parker
Alexia en Hanlie Souranis. Foto: Elize Parker

Die sanger Tuin vertel in die dokumentêr van die ondersteuning wat sy van Moot-inwoners ontvang het nadat sy uit rehabilitasie gekom het. Sy het volgens haar vertelling feitlik niks besittings gehad nie, maar inwoners het haar gehelp om op haar voete te kom en ook musiekinstrumente aan haar geskenk. Sy het by die musiekfees opgetree en liedjies soos Wentelbaan en Weerlig gesing.

Die verhaal ontvou met bekende plekke en alledaagse landmerke wat deel van die groter prentjie van Die Moot word. Die Toutrekpark, Hardy Muller-sirkel en Mader se Slaghuis is van die plekke wat in die film herkenbaar is.

En veral dan ook oom Pat se smullekker pasteie!

Die geskiedenis van die gebied word ook ondersoek. Kenners van die Erfenissentrum vertel hoe die gebied tussen die twee heuwels ná 1830 in plase omskep is. Dr. Gerhard de Kamper verduidelik hoe hierdie landelike area daarna onder Britse beheer as die “Outlands” bekend gestaan het. Munisipale owerhede het in 1915 uiteindelik op openbare aandrang die dorp Innesdale in die gebied gestig wat die kern van die Moot sou word. In 1931 is die gebied as deel van die stad geïnkorporeer.

De Kamper vertel ook van die verskillende gemeenskappe wat hulle later in die Moot gevestig het. Ambagsmanne wat hoofsaaklik uit Duitsland en Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer het, het hulle veral in die vyftigerjare in die gebied gevestig. In die sestigerjare het Portugese vlugtelinge uit Mosambiek, asook ’n gedeelte van die Italiaanse immigrantegemeenskap, hulle in die Moot gevestig.

Akteur en sanger Neil Sandilands praat in die film oor sy kennismaking met die Moot en hoe hy die gebied in een van sy liedjies verwerk het. Hy sê: “Hier is iets goeds aan Die Moot se mense. Dit gaan oor families en mense wat dinge regmaak.”

Die dokumentêr kyk verder as net die bekende verhale en gee ook aandag aan van die Moot se meer eksentrieke inwoners. Taco Kamstra, wat ’n volledige kerkorrel in sy huis het, is een van die mense wat deel vorm van die film. Motor- en motorfietsversamelaars word ook betrek.

Biltong Media beoog om die film in die volgende jaar aan ’n stromingsdiens te verkoop, asook om die film na ’n paar filmfeeste te stuur. Tans is dit nog nie op die internet of in Pretoria te siene nie.

– Kliek hier om ‘n lokfilm van die film te sien: 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button