Naka Bulle en Centurion skop Gold Cup met oorwinnings af, Grizzlies uitgeskakel
Terwyl die Grizzlies van Tuine ongelukkig die afgelope naweek uitgeskakel is na hul nederlaag in die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi, kom Naka Bulle en Centurion eerskomende naweek teen mekaar te staan in die tweede rondte van dié toernooi.
As eerskomende naweek se tweede rondte wedstryde in vanjaar se nasionale Gold Cup klubrugby toernooi afgehandel is, sal slegs een Carltonbeker klub staande bly.
Dié toedrag van sake het ontstaan nadat beide Naka Bulle en Centurion die afgelope naweek goeie oorwinnings in die eerste rondte van die toernooi behaal het, maar ongelukkig eerskomende naweek teen mekaar te staan gaan kom in die tweede rondte. Weens die uitklop-struktuur van die toernooi sal slegs die wenner van dié wedstryd dus staande bly om in die kwarteindrondte voort te veg.
Ongelukkig het die derde Carltonbeker klub in die toernooi, die Grizzlies van Tuine, die afgelope naweek op hul tuisveld teen Brakpan vasgeval. Die Oos-Randers het Grizzlies met 25-16 geklop om die manne uit Pretoria se Weste sodoende uit te skakel en hul seisoen te beëindig.
– Naka Bulle, die verdedigende Gold Cup kampioen wat vanjaar gaan probeer om dié toernooi ’n ongeëwenaarde vierde keer agtereenvolgens te wen, het hul veldtog Saterdag op hul tuisveld teen die WP klub SK Walmers afgeskop.
Saterdag in die Moot moes Naka Bulle hard werk om die begeesterde aanslag van SK Walmers af te weer. Hulle kon uiteindelik met ’n wen-telling van 43-36 van die veld stap.
Die manne van die Moot, wat sonder hul beseerde kaptein – die ervare Ruan “Bielie” Grundelingh –moes klaarkom, het na 15 minute se aksie die telbord aan die rol gekry via ’n drie deur heelagter Adam Makhari.

Nadat die besoekers hul rekening met ’n strafdoel geopen het was dit Naka Bulle se haker, Christoff Craill, se beurt om vanaf ’n lynstaan oor te dryf.
’n Drie deur die besoekers is byna dadelik uitgekanselleer deur Craill se tweede, wat soortgelyk aan sy eerste poging was. Hansie Graaff se drie sekondes voor rustyd het die bonusunt vir die tuisspan verseker en die halftyd telling op 24-10 in Naka Bulle se guns laat staan.
Die Kapenaars het probeer om die tempo van die wedstryd te verhoog in die tweede helfte en aanvanklik het dit vir hulle gewerk, toe hulle eerste daarin geslaag het om punte aan te teken. Hul groot agtsteman, Roland van den Heever, kon deurstorm vir sy drie.
Makhari se tweede drie het egter die druk weer op die besoekers geplaas, maar hulle het geweier om te gaan lê en heelagter Ozzy Osman se drie het SK Walmers se ondersteuners hoop gegee.
’n Puik breekslag deur die flank en nuwe kaptein, Eckardt Boshoff, het Craill in staat gestel om sy derde drie te druk en die tuisspan se voorsprong te hestel.
Osman se tweede drie het nie net die besoekers se bonuspunt verseker nie, maar ook die punteverskil weer na net sewe verklein. Dít het die Kapenaars bloed laat ruik en hulle het die bal byna roekeloos begin rondgooi, wat die geleentheid geskep het vir Naka Bulle om van omgekeerde besit aan te val vir linkervleuel Vuyelwa Khosa se drie, wat die uitslag verseël het.
Hoewel die besoekers ’n troosdrie ná die laaste toeter gedruk het, was die uitslag reeds bepaal.








– Vir Centurion was dit nie net die lang reis na die Noord-Vrystaat wat hul fokus vir hul wedstryd teen die Welkom Rugbyklub kon beïnvloed nie. ’n Donderstorm en skade aan die rugbypale op Welkom se veld wat eers hestel moes word, het daartoe bygedra dat die wedstryd ’n uur laat begin het.
Centurion kon egter die uitdagings oorkom om met 49-21 te wen.
Hoewel die reën opgeklaar het, was die toestande nog winderig en grou, maar die nat veld het Centurion gepas en met hul voorspelers wat oorheers het, kon SJ Bezuidenhout en sy makkers daarin slaag om die telbord vroeg aan die gang te kry.
Teen rustyd was die bonuspunt vir vier drieë reeds in die sakkie met die telling op 28-7 in hul guns. Centurion se oorheersing het in die tweede skof voortgeduur. Hulle het gehou by hul aanvallende patroon en nóg drie keer gaan druk om die oorwinning oortuigend te maak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
