Ontstoke Colbyn-inwoners keer metro se snoei van straatbome
Ontstoke inwoners van Colbyn het op 25 September ingegryp toe die metro Tse snoeispanne begin het om blomryke straatbome te snoei. Inwoners het die werk gestop met di ehulp van 'n raadslid en ’n ooreenkoms bereik dat slegs bome wat kragdrade bedreig, gesnoei sal word maar voorlopig alleen gelaat sal word in die blomseisoen.
Bauhinia-bome staan in volle blom langs ’n straat in Colbyn, waar inwoners ontsteld geraak het oor die snoei van die boomryke buurt se gevestigde straatbome op 25 September. Foto: Verskaf.
Ontstoke inwoners van Colbyn het op 25 September saamgespan om boomsnoeispanne van die metro te keer nadat werkers in verskeie strate van die rustige, boomryke buurt begin het om straatbome te snoei.
Die optrede het inwoners veral ontstel omdat van die Bauhinia-bome tans in volle blom is, terwyl die Pride of India-bome na verwagting binnekort ook sal blom.
Volgens inwoners het boodskappe vinnig op WhatsApp versprei nadat die snoeispanne in die buurt opgemerk is. Bure het daarna in die strate bymekaargekom om die werkers te nader en te probeer keer dat verdere bome gesnoei word.
Een van die bome is volgens inwoners erg onbevoeg gesnoei wat kommer laat ontstaan het oor die boom se toekoms. Foto: Verskaf
Die Bauhinia-bome in Glynstraat en die Pride of India-bome in Taitstraat is volgens inwoners onder meer geraak.
Sumarie Slabber, ’n inwoner van Colbyn, het gesê inwoners is nie teen behoorlike boomsnoei nie, maar dat dit volgens hulle beperk behoort te wees tot gevalle waar takke werklik met elektrisiteitsdrade inmeng.
“Nou sny hulle die Bauhinias voor die voet terwyl dit in vol blom is. Daar is ook van die Pride of India-bome stomp afgesny. Ons kon hulle darem vanoggend keer om verder die bome en strate te vernietig!” het Slabber gesê.
DA-raadslid Shimmy Mashamaite het op versoek van Colbyn-inwoners tussenbeide getree.
Hy het die spanne wat besig was om die bome te snoei, gaan spreek en met die toesighouer onderhandel dat die werk onmiddellik gestaak word.
Volgens die ooreenkoms wat daarna met die hoof-tuinboukundige bereik is, sal die spanne in die toekoms slegs bome snoei wat ’n direkte risiko vir die elektrisiteitstoevoer inhou.
Daar is ook volgens die inwoners ooreengekom dat die bome nie verder op dieselfde wyse as op 25 September gesnoei sal word nie.
Florence-straat sal volgens die ooreenkoms nie gesnoei word nie, aangesien daar tans geen probleem daar is nie.
Slabber het gesê die natuurryke karakter van Colbyn is een van die redes waarom baie inwoners die buurt gekies het om n te woon.
“Ons Bauhinias in Colbyn is in volle blom. Dit is beslis nie snoeityd nie! Die bome verfraai ons woonbuurt waaroor ons baie beskermend is. Colbyn is een van die mooiste woonbuurte in Pretoria en dis ons verantwoordelikheid om dit op te pas,” het sy gesê.
Ook van die Pride of Indie en ander straatbome is volgens inwoners baie teruggesnoei, wat kommer laat ontstaan het oor moontlike skade aan die gevestigde straatbome. Foto: Verskaf
Sy het ook die belang van die bome vir bye beklemtoon, aangesien die blomme nektar verskaf.
“Ek is nie teen snoei nie, dit moet net reg gedoen word,” het sy gesê.
’n Ander inwoner het gesê dit is frustrerend om te sien hoe gevestigde straatbome gesnoei word op ’n manier wat die bome volgens die inwoner permanent kan beskadig of selfs laat vrek. “En dit in boomplantmaand!”
Die metro het verduidelik die bestuur van bome naby elektrisiteitslyne is onderhewig aan veiligheidsvereistes.
Die metro se elektrisiteitsvoorsieningsverordeninge en nasionale veiligheidsregulasies bevat spesifieke bepalings oor bome wat naby kragdrade groei. Die doel van dié maatreëls is om risiko’s soos kragonderbrekings, brande en elektriese skokke te beperk.
Volgens die inligting wat aan inwoners beskikbaar gestel is, kan die metro of gemagtigde kontrakteurs bome snoei wanneer takke met oorhoofse kragdrade of munisipale infrastruktuur inmeng.
Inwoners wat ongelukkig is met die snoei van straatbome, kan die saak volgens die metro se prosedures by sy bosbou-afdeling aanmeld. Foto’s, bewyse en die presiese straatadres kan na urbanforestry@tshwane.gov.za gestuur word. Klagtes kan ook by die Stad Tshwane se kliëntedienslyn by 012 358 9999 aangemeld word.
– Vrae is aan die Stad Tshwane oor die spesifieke Colbyn-voorval gestel. Geen antwoord was teen druktyd ontvang nie.
– Kliek hier om na Raadslid Shimmy Mashamaite se opsomming van gebeure op 25 September te kyk:
Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.