Nog ‘n jong man pleeg selfmoord
Nog 'n jong man neem sy eie lewe in die noorde van Pretoria.

Nog ‘n jong man in die noorde van Pretoria het selfmoord gepleeg.
Mirna von Benecke, woordvoerder van die Sinoville-polisie, het die dood van die 27-jarige man Saterdagaand bevestig maar kon nie dadelik besonderhede verstrek nie. Sy het gesê ‘n geregtelike ondersoek sal gedoen word.
“Ek wil dit ten sterkste beklemtoon dat selfmoord nie die laaste uitweg hoef te wees nie. Daar is talle ondersteuningsgroepe wat mense die nodige bystand sal lewer. Kontak hulle eerste,” het Von Benecke aangeraai.
Sy het gesê die man se pa het op sy liggaam in die slaapkamer afgekom. Hy het vermoedelik aan ‘n oordosis van medikasie gesterf.
Hierdie was die derde selfmoord vanjaar deur ‘n jong man in die noorde van Pretoria.
Rekord het onlangs oor twee ander selfmoorde sedert die begin van die jaar berig. ‘n Jong man het homself op 21 Januarie in sy badkamer in Magalieskruin gehang en die 20-jarige Jacques Nel van Montana het ook in Januarie selfmoord gepleeg.
Sowat 300 mense het op 17 Januarie die NG-kerk Montana se banke vol gesit toe Voortrekkervriende eerbied aan Nel se lewe betoon het.
Die welbekende webtuise, Proud2Bme, wat daarop fokus om mense te leer hoe om eienaarskap van hul lewens te vat, het ‘n paar wenke saamgestel om mense te help wat selfmoordneigings toon.
* Plaas ‘n lys van selfmoord waarskuwingstekens op ‘n veilige plek wat maklik bekombaar is.
* Nader familielede of vriende van die persoon wat jy vermoed het selfmoordneigings. Stel hulle in kennis voordat iets drasties gebeur.
* Moet nooit dink dat jou vriend jou sal verwyt as jy hul lewe red nie. Selfs al is jy nie seker dat iemand selfmoordneigings het nie, bespreek dit met iemand sodat lig daarop gewerp kan word.
Lesers kan Proud2Bme by www.proud2bme.org besoek vir verdere inligting.
Von Benecke het bygevoeg dat die Sinoville-krisissentrum gekontak kan word in die geval van ’n dreigende selfmoordgeval.
Die volgende nommmers kan in geval van nood gekontak word:
– The SA Depression and Anxiety Group: 0800-567-567 of SMS: 313-93.
– Sinoville-krisissentrum: 012-543-9000.
– Childline: 0800-055 555.
– SAPS: 10111 of 012-543-8800.
Vir meer plaaslike nuus besoek Rekord se webtuistes:
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
