VIDEO: Skote klap by Moot-kettingwinkel
’n Spar-sekuriteitswag is tydens ’n rooftog in die buik getref. Drie rowers het met ’n onbekende bedrag geld gevlug.

‘n Les Marais-inwoner het Maandag ternouernood aan die dood ontkom toe ‘n koeël verby sy kop gevlieg het.
Dit het gebeur toe drie gewapende rowers ‘n geldwa voor die Les Marais Spar beroof het. ‘n Sekuriteitswag is in die buik gewond.
John Short, ‘n ooggetuie, sê hy was omstreeks 08.45 besig om groente in ‘n sakkie te pak toe ‘n sekuriteitswag verby hom hardloop. Hy het een skoot gehoor en dadelik platgeval.
“‘n Tweede skoot het geklap en bo-oor my kop gevlieg en bokse agter my getref,” het ’n geskokte Short gesê.
Luitenant-kolonel Katlego Mogale, polisie-woordvoerder, het die rooftog bevestig. Volgens Mogale het die drie rowers met’n onbekende bedrag weggekom. Hulle het in ‘n blou Chev Aveo gevlug.
Sy sê die geldwa-sekuriteitswag het hom in die rowers vasgeloop terwyl hy besig was om die Spar te verlaat.
“Die wag het die geldkas neergegooi en teruggedraai. Die rowers het verskeie skote afgevuur en ‘n veiligheidswag van Spar in die buik getref.”
Shot sê hy was 13 jaar in die weermag en skote het al dikwels om hom geklap, maar Maandag se rooftog het sy senuwees verrinneweer.
“As jy in die weermag is dan verwag jy skote om te klap, maar die rooftog was baie erg gewees. Ek was byna dood.”
Hendry Adendorff, eienaar van Les Marais Spar, het gesê sy personeel is in ‘n toestand van skok. “Ons sekuriteitswag is gewond en sy is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas vir mediese behandling.”
Besoek Rekord se webtuistes vir meer nuus:
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
