Metro spring aan die werk
Tshwane-metro reageer blitsig om plaveisel te herstel.
Tshwane-metro het blitsig gereageer om ‘n stukkende sypaadjie in 26e Laan, Rietfontein, te herstel en bourommel te verwyder nadat hulle eers per ongeluk ‘n huiseienaar vir die gemors langs die pad beboet het.
Pieter Kok, die huiseienaar, is R2 000 of tot ses maande tronkstraf beboet vir bourommel wat buite sy huis gelê het.
Die inwoners van die Moot wat bourommel buite hul erwe laat lê, is onlangs streng deur DA-raadslid Elmarie Linde aangespreek om dit te verwyder. Sy meen bourommel breek die beeld van die gemeenskap af en weerspieël slordige gedrag.
“Die plaveiselstene is nog dieselfde dag opgelaai nadat Rekord my besoek het en die volgende dag het die metro die plaveisel ten volle herstel. Ek is baie dankbaar daarvoor,” het Kok gesê.
Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, het die herstelwerk bevestig. “Hoewel ons nie kan vasstel wie die werklike oortreder is nie, het ons voortgegaan om die plaveisel te herstel.”
Linde maan inwoners om te alle tye hul bourommel voor erwe te verwyder en op die manier te verseker dat almal in vrede leef. “Inwoners wat rommel weens stadsraadkonstruksie voor hul erwe ontdek, kan my direk skakel sodat ons die probleem so gou as moontik kan oplos.”
Inwoners met rommelprobleme word aangeraai om ‘n epos aan Linde te stuur: el@elmarielinde.co.za
Vir gratis nuus besoek Rekord se webtuistes by:
Vir meer nuus, volg ons op Twitter of besoek ons op Facebook.
