Eldo’s blink uit in vermaaklikheidsbedryf
Vier Hoërskool Eldoraigne-leerlinge maak naam in flieks en musiek.
Vier graad 11-leerlinge van Hoërskool Eldoraigne maak naam in die vermaaklikheidsbedryf. Izel Bezuidenhout, Paul Loots, Malique Ukena en Ruben Lotter is vinnig besig om bekend te raak vir hul vertonings in rolprente en by sangkompetisies.
Izel Bezuidenhout het pas ‘n geleentheid gekry wat haar loopbaan na nuwe hoogtes kan neem. Sy het die rol van ‘n jong Anna Bruwer in die fliek Dis Ek, Anna losgeslaan. Dié rolprent, wat in Oktober vanjaar uitgereik gaan word, is ‘n samestelling van Anchien Troskie se twee topverkoper-romans Dis ek, Anna en Die Staat teen Anna Bruwer.
“My hele lewe lank droom ek al om ‘n emosionele rol soos hierdie te speel, dit is hoekom ek drama studeer. Die feit dat ek hierdie rol gekry het, het my onkant gevang,” sê Bezuidenhout, wat tussen haar besige graad 11-jaar moet tyd inruim om haar rol te vertolk.
Die Anna Bruwer-rol bied Bezuidenhout ‘n geleentheid om saam met van Suid-Afrika se mees gesoute en gerespekteerde akteurs te werk, insluitende die immergroen Marius Weyers wat die rol van Windhond Weber in die rolprent gaan speel.
Hierdie is wel nie haar eerste groot rol in ‘n rolprent nie. Sy het ook die rol van Chante-Amore in die fliek Agent 2000: Die Laksman vertolk. Hierin het sy teenoor mede Eldo, Paul Loots, gespeel wat die hoofrol van Walter vertolk het.
“Al my vriende was so gaaf. Almal het my net gelukgewens toe hulle my op die silwerdoek sien. Die rol van Anna Bruwer gee my die geleentheid om meer ‘n ‘regte mens’, iemand nader aan my eie persoonlikheid, te speel,” het Bezuidenhout gesê.
Sy is tans op Knysna waar die rolprent vervaardig word. Een van die goot uitdagings waarvoor Bezuidenhout moes voorberei was om haar lang blonde hare kort te knip. “Op die ou einde het hulle my darem tegemoed gekom, en dit gaan nou net bietjie korter gesny word, met ‘n kuif,” het Bezuidenhout laggend gesê.
Haar mede Eldo’s vaar ewe goed in die vermaaklikheidsbedryf. Paul Loots is reeds ‘n rolprentster na die Afrikaanse flieks Agent 2000: Die Laksman, Roepman en Verraaiers.
“Als het rerig begin toe ek in graad 6 was en in Roepman was,” sê Loots, wat onlangs draadjies gekry het. “Op daai punt was ek nog baie jonk en het glad nie besef met watse ongelooflike akteurs ek gewerk het nie. Dit was altyd my droom om in ‘n groot fliek te speel, en in Roepman het ek daai geleentheid gekry en saam met ‘n klomp wonderlike akteurs gewerk. Een van die hoogtepunte van my loopbaan sover was toe ek die kans gehad het om op die verhoog by Innibos op te tree. Ek het altyd aan drama deelgeneem, en dit was vir my baie spesiaal om daar te wees,” het Loots gesê.
Hoewel hy op die oomblik nie aan enige groot rolprentprojekte werk nie, het Loots steeds groot planne vir die toekoms. “Wanneer ek klaarmaak met matriek, beplan ek om interface design by Open Window te gaan studeer.” Dit het te doen met die manier hoe inligting aan ‘n gebruiker aangebied word, byvoorbeeld hoe dit op ‘n rekenaarskerm aangebied word.
Malique Ukena het onlangs sy eerste groot rol losgeslaan. Hy is as Tsepo in die superheldfliek SCARS gekies. Tsepo is ‘n Zulu-seun wat die vermoë het om onsigbaar te word. “Dit is my droom om ‘n akteur te word. Ek wil eendag graag ‘n groot rol speel. Ek het onlangs Barack Obama in ‘n kleinteaterproduksie gespeel. Dit is die sort rolle wat ek eendag wil speel.”
Dié rol van Tsepo is ‘n groot geleentheid vir Ukena, wat hoop om eendag met groot Hollywood-regisseurs Steven Spielberg en Martin Scorsese te werk. SCARS gaan oor vier tieners wat verskeie vermoëns het, en hoe hulle besluit om superhelde te word en hul vermoëns te gebruik om mense te help en te verdedig, en die uitdagings wat hulle vermoëns op hul persoonlike lewens het.
Ukena het onlangs met die verfilming van SCARS begin, en sê hy sien uit na die toekoms, en hoop om net in groter en beter films te speel.
Ruben Lotter, klasmaat van Bezuidenhout en Loots, is vining besig om ‘n impak in die musiekbedryf te maak.
“Van kleins af het ek altyd gesing. My ma sê as baba het ek altyd ge-‘hum’ as ek wakker word,” sê Lotter.
Een van die groot uitdagings wat hy al vroeg in sy loopbaan ervaar het, was toe sy stem gebreek het. “Dit was baie vreesaanjaend. Ek het nie geweet of ek weer sal kan sing nie. Ek moes toe van voor af leer om my stem te beheer,” het Lotter gesê.
Al is hy nog op skool, het Lotter al aan verskeie sangkompetisies deelgeneem, by vele teaters opgetree en gaan binnekort sy eie CD opneem en bekendstel. “Alle musiek is vir my goed. Ek hou veral van die ‘golden oldies’, soos Queen, maar ek is ook gek oor moderne kunstenaars soos Lady Gaga.”
Lotter sê die druk op jong kunstenaars is veral erg, maar hy steur hom nie daaraan. “‘Backstage politics’ is niks nie. Ek fokus nie op al daai goed nie.”
Lotter is besig om sy eie liedjies vir sy debuutalbum te skryf . “Ek gaan binnekort ‘n platemaatskappy sien, en hoop om sommer binnekort my album bekend te stel.”
Lotter het ook onlangs aan die AfriVisie liedjieskryfkompetisie op KykNet deelgeneem.
For more free community news in your area, visit Rekord’s websites:
Also visit our Facebook and Twitter pages.
