Na agt maande ontsier slaggate steeds Francesstraat in Bon Accord in die noorde van Pretoria. Inwoners kla dat Tshwane metro steeds nie die slaggate reggemaak het nie.
‘n Ontstelde Bon Accord-inwoner wat anoniem wil bly, het gesê die slaggate het reeds haar voertuig beskadig.
Demokratiese Alliansie (DA) raadslid Marnette Sutherland het gesê die probleem met Tshwane metro se infrastruktuur was algemene gebrekkige instandhouding. Indien daar instandhouding was, sou onopgevulde slaggate nie ‘n probleem geword het nie.
“Tshwane metro se herstelspanne word gepootjie deur materiaal-tekorte wat ontstaan weens kontantvloei-probleme,” het Sutherland gesê. Sy het verduidelik dat die begroting vir padveiligheid ingekort is en gevolglik word daar te min materiaal aangekoop om slaggate op te vul.
Sutherland het gesê slaggate veroorsaak ongelukke, skade aan voertuie en verkeersopeenhopings.
Demokratiese Alliansie (DA) raadslid Danna Wannenburg het gesê probleme met slaggate word vererger deur motoriste wat die pad gebruik kort nadat ‘n slaggat opgevul is. “Die nuwe teer kry nie genoeg tyd om behoorlik hard te word nie.” Wannenburg het bygevoeg dat waterpype onder die pad ook slaggate veroorsaak wanneer dit bars of lek. Swaar trokke plaas ook druk op die pad.
Piet van Niekerk, ‘n inwoner van Pretoria-Noord, het gesê Tshwane metro ignoreer belangrike knelpunte soos straatligte wat gedurende die dag brand, waterpype wat bars of lek en slaggate. “Beurtkrag word aanhoudend uitgeoefen maar daar is straatligte wat heeldag brand. Hoe verduidelik Tshwane metro dit?” het van Niekerk gevra.
Hy het gesê deur klein probleme te ignoreer word groter probleme geskep. Van Niekerk het gesê die teerstraat op die hoek van Generaal Beyers- en Stasiestraat in Pretoria-Noord lyk al soos ‘n grondpad weens swak instandhouding. “‘n Mens kan nie eens die pad sien nie, wat nog van sperstrepe.”
Van Niekerk het verduidelik dat die pad tans in so ‘n slegte toestand is weens ‘n waterpyp wat al vir maande lank lek.
Wannenburg het gesê inwoners moet besef daar is ‘n omslagtige prosedure wat gevolg moet word voordat Tshwane metro kan inspring om herstelwerk te doen en dat inwoners geduldig moet wees wanneer hulle ‘n probleem teëkom.
Hy het ook daarop gewys dat daar daagliks net te veel probleme is vir die metro om by alles uit te kom. “Tshwane metro sal na die probleem omsien so gou as wat vir hul moontlik is,” het Wannenburg gesê.
Sutherland het inwoners aangeraai om slaggate aan te meld by potholes@tshwane.gov.za
Tshwane metro was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

Vir jou daaglikse nuus, besoek Rekord se webwerwe:
‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.
