Local newsMunicipalNews

Steve dalk ook nie na Afrikaans Is Groot genooi

Daar word nog besluit of Steve Hofmeyr vanjaar na die Afrikaans is Groot-konserte, wat verlede jaar by die NG Kerk in Moreletapark gehou is, genooi sal word.

Organiseerders van die Afrikaans is Groot (AIG)-konsertreeks moet nog besluit of Steve Hofmeyr vanjaar daar sal optree.

AIG het Saterdag by monde van woordvoerder Barnard Beukman gesê geen besluit is nog geneem nie en dit sal waarskynlik eers in Maart bekend wees of Hofmeyr genooi sal word.

Rekord het verlede jaar berig dat die ANC-jeugliga in wyk 91 aansoek gedoen het vir “vreedsame protesoptrede” teen Hofmeyr by die NG Kerk Moreletapark, waar die AIG se Pretoria-konserte gehou word.

Tshwane-metroraad het egter die aansoek afgekeur.

Die jeugliga, wat teen Hofmeyr se deelname aan die konsertreeks was, het benadruk dat hy nie gekant is teen Afrikaans of die konsertreeks nie, maar teen Steve se rassistiese aanmerkings.

Intussen het Innibos en Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vroeër aangekondig dat Hofmeyr, wat ‘n groot trekpleiser vir feesgangers is, nie vanjaar daar sal optree nie.

Hofmeyr het Vrydag behoorlik op sy Facebook-blad gal gebraak toe hy die bestuur van beide feeste daarvan beskuldig het dat hulle feesgangers soos “sotte met geen opinies” behandel.

Innibos se Sandra Jacobs en KKNK se Rhodé Snyman behandel alweer die Suid-Afrikaanse feesgangers soos sotte wat geen opinies het of behoeftes kan bedryf tensy iemand anders (soos ‘n sanger) hulle voorskryf nie,” skryf hy.

Na aanleiding van sanger en aktrise Elzabé Zietsman se aanmerking dat sy nie een van die mense was wat Die Stem saam met Steve by verlede jaar se Innibos gesing het nie, sê Steve: “Mense (feesgangers)… is nie almal Zietsman se dom ‘d*se’ nie en het ook ‘n wil van hul eie. Mense het geen aansporing van my nodig om te baklei om net weer soos eersterangse Suid-Afrikaanse burgers en trotse Afrikaner Boere te mag voel nie. Ons betaal beslis daarvoor. Ten duurste.”

Hofmeyr beskuldig ook die twee feeste daarvan dat hulle brûe brand, onmin saai en versoening tussen konsertgangers verpletter. Dis afskuwelik, sê hy.

Volgens die Innibos-bestuur berus hul besluit daarop dat Hofmeyr glo kultuur verpolitiseer en dit duidelik gemaak het dat niemand aan hom sal voorskryf wat hy op ‘n verhoog mag en nie mag sê of sing nie.

Hofmeyr is verlede jaar uit verskeie oorde gekritiseer omdat hy Die Stem op ‘n verhoog by Innibos gesing het. Feesbestuur was nie vooraf hiervan ingelig nie en was net so verras soos feesgangers oor Hofmeyr se liedjiekeuse.

Hofmeyr kap so terug: “Beide feeste hamer graag op my kastige ‘politieke agenda’, maar vir watter organisasie of politieke party sou ek iemand wou werf? Is ek die enigste buite-parlementêre burger met ‘n politieke opinie? En wat sou die voordele van hierdie dreigende politieke agenda wees as dit my klaarblyklik ‘n kwart van my vertonings en inkomste gaan kos?”

Hy sê sy huidige toer (Toeka 3) is heeltemal vry van politiekery. “Daar is nie ‘n politiese woord aan my konsert nie. Ek sing net soms Die Stem.”

Hofmeyr het voormalige feesondersteuners aangepor om in hul woede en protes te volhard en liefs die ander feeste te ondersteun waar hul “saak ‘n plekkie in die son sal geniet en jy meer as jou finansiële bydraes werd sal wees”.

“Ek is lief vir Oudtshoorn en Nelspruit… Maar wat my sal weghou hierdie jaar is politiekery en fascisme, presies dié tipe wat ons feesrade vandag bedryf.”

Steve het die bykans 50 000 stemme op die ‘Boikot ABSA KKNK en bedmaats’ Facebook-blad vir hul ondersteuning bedank.

Vir gratis nuus besoek Rekord se webtuistes:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

Volg Rekord op Twitter en Facebook vir plaaslike nuus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button