Wilde poue maak amok
Pretoria-Noord-inwoner sukkel al drie jaar met wilde poue wat raas en plante opvreet.

Wilde poue wat raas en plante opvreet, is die afgelope drie jaar ‘n probleem vir ‘n Pretoria-Noord-inwoner.
Rita Rautenbach het vertel hoe wilde poue haar verpes. Hulle kom sit op die dak, die stoep en in die tuin van haar huis in Emily Hobhousestraat.
Rautenbach het gesê die poue raas veral gedurende paartyd in Augustus en September.
“Ek kan nie slaap nie en skrik my elke keer boeglam wanneer ‘n pou skielik begin tekere gaan langs my kamervenster,” het huishulp Katerina Skekanke gesê.
Rautenbach het gesê sy het al die dierebeskermingsvereniging (DBV), dieretuin, voëlpark, Onderstepoort en Tshwane natuurbewaring gebel en tot dusver kon niemand haar nog help nie. “Ek is moedeloos, en nou het ons nog ‘n vier-maande-oue babatjie ook in die huis.”
Rautenbach het gesê sy kan glad nie tuinmaak nie. Die poue vreet alles op wat sy plant. “Ek het een slag R300 se plantjies geplant waarvan daar ‘n dag later nie eens ‘n stokkie oor was nie.”
Sy het gesê haar buurvrou voer die poue en dan kom hulle aanhoudend terug.
DBV-woordvoerder Korkey Levanon het gesê hul hande is afgekap weens die feit dat dit nie ‘n welsynsgeval is nie. Volgens haar is poue ook nie ‘n bedreigde spesie nie en word deur geen wet beskerm nie.
Demokratiese Alliansie-raadslid Danna Wannenburg het gesê die poue is ‘n probleem en dat hyself met hande in die hare sit.
Pretoria dieretuin-woordvoerder Angeline Swan en Tshwane natuurbewaring-woordvoerder Henke Marais was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Vir jou daaglikse nuus, besoek Rekord se webwerwe:
‘Like’ ons Facebook page en volg ons gerus op Twitter.




