CrimeGalleriesNewsNews galleries

Dwelms gekonfiskeer tydens Metro polisie klopjag

Verskeie dwelms is gekonfiskeer en een persoon gearresteer tydens 'n klopjag deur die Metro polisie onlangs.

Die Tshwane-metropolisie het Donderdagaand beslag op verskeie dwelms en dwelmtoebehore gelê en een persoon in hegtenis geneem tydens ‘n klopjag by twee huise in die Moot-omgewing.

Tydens die klopjag is daar op onder meer, dagga, heroïne en CAT beslag gelê, terwyl lemme en ander toebehore ook gekry is.

“Ons het verskeie klagtes van bure ontvang oor prostitusie, dwelmgebruik en skote wat afgevuur is by een spesifieke huis,” het senior superintendent Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie gesê.

“Ons het al die afgelope jaar, vandat ons die eerste keer klagtes oor dié eiendom ontvang het, sowat 30 mense by die huis in hegtenis geneem, waarvan een vrou Donderdagaand (26 Februarie) vir dwelmbesit in hegtenis geneem is en nog vier ander die afgelope naweek, ook tydens ‘n klopjag.”

Tydens die klopjag Donderdagaand, was die Tshwane-metro se water- en elektrisiteitsafdeling ook teenwoordig, om enige onwettige elektriese- en waterkoppelings te identifiseer.

“Hierdie huis se waterrekening beloop op die oomblik sowat R120 000,” het Mahamba gesê.

“Om so ‘n huis ontruim te kry kort ons die hulp van nie net die water- en elektrisiteitsafdelings nie, maar ook dié van binnelandse sake en maatskaplike dienste veral wanneer kinders op so ‘n perseel gevind word.”

Nie net is sowat 13 mense tydens die klopjag vasgetrek en deursoek nie, maar die metro het ook die huise, die eiendomme en verskeie motors deursoek.

“Ons het verlede Sondag ook ‘n klopjag hier gehad, dus was daar nie so baie dwelms wat vanaand gevind is nie,” het Mahamba gesê.

“Ons sal weer in die toekoms ‘n opvolg by hierdie huise doen, want ons wil sorg dat dit ‘n rustige, veilige buurt vir ander inwoners van die omgewing is en ons sal altyd klagtes van inwoners opvolg.”

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button