In ‘n verslag oor internasionale menseregte en toegang tot moedertaalonderrig op tersiêre vlak, het die internasionale taalregte-kenner, prof. Fernand de Varrennes, beklemtoon dat ‘n taal met die omvang en ontwikkelingsvlak van Afrikaans as primêre onderrig- en administratiewe taal, aan staatsondersteunde en privaat universiteite gebruik mag word.
Hy het aangedui dat die internasionale menseregte-instellings se bevinding bewys dat die weerhouding of afskaffing van so ‘n taalaanbod op diskriminasie teen die taal se sprekers sal neerkom.
Die verslag is Maandag bekendgestel by ‘n konferensie wat deur die burgerregte-organisasie, AfriForum, en die vakbond Solidariteit in Centurion gehou is.
Die verslag is opgestel op versoek van die twee organisasies in die lig van die omstrede debat oor die gebruik van Afrikaans as amptelike en primêre onderrigtaal op tersiêre vlak. Die verslag fokus in besonder ook op die gebruik van Afrikaans by die Potchefstroomse kampus van die Noordwes Universiteit.
Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wil die Afrikaanse gemeenskap Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak ontvang, maar ideologiese uitsprake deur onder andere die minister van hoër onderwys en opleiding laat twyfel ontstaan of hulle mag.
“Hierdie verslag en konferensie het die reg tot ‘n Afrikaanse staatsondersteunde en privaat universiteit bo alle twyfel uit ‘n internasionale en Suid-Afrikaanse grondwetlike perspektief beantwoord,” het Hermann gesê.
Die twee instansies het bevestig alles moontlik sal gedoen word om Afrikaanse moedertaalonderrig op alle vlakke in staatsondersteunde en privaat instellings te bevorder.
Die besprekings tydens die konferensie is deur prof. De Varrennes gelei, waarna prof. Francois Venter, ‘n kenner van konstitusionele reg, repliek gelewer het. Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, het ‘n aanbieding oor grondwetlike teenoor politieke ruimtes vir Afrikaans gedoen.
In sy verslag het prof. de Varrennes daarop gewys dat die regering van Suid-Afrika in toenemende mate daarop gerig is om slegs Engels as omgangstaal dwarsdeur die land te wil bevorder, in weerwil daarvan dat die grondwet van Suid-Afrika voorsiening maak vir die gebruik van twee tale in provinsiale en nasionale regerings, en spesifiek ingevolge klousule 29 (2), dat onderwys in die amptelike taal, of taal van keuse, in openbare skole aangebied moet word.
“Die klem op die gebruik van net een amptelike taal is die mees verontrustende in die onderwys. Die Ipsos Markinov-navorsing in September 2014, het daarop gedui dat meer as twee derdes van Suid-Afrikaners gedink het dat hul kinders die reg het om onderwys in hul eie taal te ontvang. Hierdie reg word in praktyk teen ‘n baie vinnige tempo ondergrawe,” het hy gesê.
Hy het aangevoer dat in ‘n tydbestek van net meer as ‘n dekade in Gauteng, sowat ‘n kwart van Afrikaansmedium skole van 2002 verander het na skole wat net in Engels onderrig gee. Gauteng het net 168 skole wat onderrig in Afrikaans gee teenoor 1 539 Engelstalige skole; daar is slegs 75 Afrikaanstalige skole in die Vrystaat en 12 in KwaZulu Natal, wat 2 153 Engelstalige skole het. Volgens die 2011 nasionale sensus is Afrikaans met 14% die derde grootste taalgroep ná Zoeloe en Xhosa en is Engels met 9,6% die vierde in terme van eerstetaal sprekers.
Hy het daaraan toegevoeg dat die gebruik van minderheidstale en Afrikaans in besonder, as verdelend, en Engels daarteenoor, as inklusief beskou word en minderheidstale gevolglik net goed genoeg geag word dat dit in kerke en op sosiale vlak gebruik kan word.
“Daar is tekens dat selfs die private gebruik van ‘n taal nie meer in Suid-Afrika verdra word nie. Daar is verslae in November 2014 van dreigemente van dr Blade Nzimande, die Minister van Onderwys, om die registrasie van Akademia, ‘n private universiteit, te onttrek sou die universiteit se onderrigmedium eksklusief Afrikaans wees. Die eis van die minister sou ongetwyfeld ‘n skending van ‘n aantal mensregtelike bepalinge onder internasionale reg wees sou dit geïmplementeer word,” het hy gesê.
Hy het gesê dat so ‘n houding ook suggereer dat dit nie vergesog is dat onderrig in openbare instellings in minderheidstale ook hierdeur bedreig word nie.
In aansluiting hiermee het prof. Francois Venter van die Noordwes Universiteit gesê Suid-Afrika is nie net ‘n multitalige land nie, dit het ook ‘n politieke geskiedenis wat ‘n swaar las op almal geplaas het.
“Een van hierdie laste is die diep gewortelde weersin onder veral sommige van die leidende politici teenoor Afrikaans. ‘n Ander is die politieke vrees dat die realiteit van multi-kulturisme, sal lei tot partysugtigheid en politieke solidariteit.
Die amptelike benadering sedert 1994 was dat die konsolidasie van bevryding die totale verengelsing en openbare diskoerse, die onderdrukking van kulturele diversiteit en die afdwing van Engels op alle skoliere moet inhou. Die konsekwensie hiervan is dat onderwysstandaarde verlaag het, het Venter gesê.
“Dat Engels die wetenskaplike lingua franca van ons era is, beteken egter nie dat alle ander tale waarin die wetenskap beoefen kan word, hul funksie as hoër-orde onderrig- en navorsingstale behoort prys te gee nie. Een sleutelrede hiervoor is dat nie al die kinders en studente wat begelei moet word om wetenskaplikes te word, uit Engelssprekende huise kom nie. Om die wetenskap te bemeester vereis kommunikasie en geen kommunikasie is meer effektief as kommunikasie in die taal waarin jy droom, bid en vry nie.”
Venter het gesê dat geen van die landstale behalwe Engels, die rol as ‘n globale kommunikasiemiddel kan vervul nie, maar as Engels gebruik word om ander tale te devalueer, soos dit wil voorkom asof dit die oogmerk van onderwysowerhede is, dan word Engels as ‘n onderdrukkende middel gebruik.
“Die belangrikste nadeel van die heersende persepsie dat inheemse tale minderwaardiger as Engels is, is nie dat dit tot swak politieke kommunikasie lei nie, maar dat dit leerders in alle grade van opleiding tot nadeel strek,” het hy gesê.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
