CrimeGalleriesNewsNews galleries

Kaalbas-rower in hondehok gekry

Die man is nou herdoop na die kaalbas-rower van Meyerspark. Hy is gevang nadat hy in die hondehok weggekruip het.

Daar sit die verdagte toe Donderdagoggend net met ‘n onderbroek aan in die hondehok nadat hy probeer het om ‘n gesin van Meyerspark te beroof.

Dit is ook hoe die polisie hom gekry het – halfkaal, sy arms en voete vasgebind en al skreeuend omdat hy nou eintlik die slagoffer sou wees.

“Help my, hulle gaan my dood maak,” het die rower gegil etlike minute nadat die polisie en buurtwag reeds gery het omdat hulle gedink het hy het gevlug.

Maar dit was net ‘n slim plan van ‘n baie onervare rower wat geskrik het toe sy amper-slagoffers self soos maer varke begin skree het.

“Sy lende was darem genoegsaam deur ‘n skrapse, bont-onderbroekie bedek,” het Susan van Dyk (48) van Roorda Smitstraat Vrydaggoggend aan Rekord vertel.

“Ek kan nou lag oor die petalje, maar ons kon dood gewees het. Sy vuurwapen was oorgelaai.”

Susan, wat ‘n tuisnywerheid, uit haar woonhuis bedryf, vertel dat haar man Eddie (67), soos elke ander oggend, vleispasteitjies en ander snoepgoed by winkels wou gaan aflewer het.

Hy het oudergewoonte in sy afleweringsvoertuig geklim en vir Rachel Maphoso (hul huishulp) gevra om die hek oop te maak. Maphoso het net die hek oopgemaak toe die ‘jong swerkater’ vir haar sê om maar eerder haar mond te hou.

“Ek het begin skree en skree en vining die huis ingehardloop,” het Maphoso vertel.

Die rower het vir haar geskree geskrik en toe Eddie, met kieriebeentjies en al, en sy groot hond agter hom aan is, het hy laat spaander.

Susan se stem het ook agter hulle aansopraan en toe die huis ingevlug om te bel. “Ek het eers soos ‘n os by die voordeur neergeslaan. Nou moet jy weet hoe moeilik was dit om my ou, dik lyf van die grond af te kry,” het Susan vertel.

“Maar die roepradio was reeds in die een hand en my selfoon in die ander. Ek het so sommer op die vloer die buurtwag geroep en die polisie gebel.”

Binne etlike minute het die polisie en die buurtwag voor hul huis gestop, maar die rower het voet in die hoek geslaan. Eddie het weer in sy voertuig geklim en Susan is bewerig die huis in. Die polisie en buurtwag het net vertrek toe sy die geskree hoor.

“Daar was doodsangs in sy stem. Ek was bang dit is dalk ons bure se seuntjie wat deur die rower aangehou word.”

Sy het toe maar weer die polisie en die buurtwag geroep en het na die bure se erf gehardloop. Daar het sy toe ’n jongman aangetref. In sy onderbroek en sy hande en voete vasgebind. (Hy het dit natuurlik self gedoen).

“Ek het hom so jammer gekry dat ek van my man se ou klere vir hom gaan haal het en wou sommer ook vir hom suikerwater vir die skok gee.”

Suikerwater het hy nodig gehad, want dit is ook hoe die polisie hom aangetref het.

Nadat die polisie hom ondervra het, het hy met die hele sak patats vorendag gekom. Die polisie het ook sy klere en ‘n ongelisensieerde vuurwapen in die asblik, wat ‘n ent van die hondehok afgestaan het, gekry.

Kaptein Jan Sepato, woordvoerder van die Silverton-polisiekantoor, het die voorval bevestig.

“Hy is inhegtenis geneem in verband met ‘n poging tot gewapende roof, poging tot huisbraak en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.”

Die verdagte verskyn Maandag in die Pretoria-landdroshof.

Vir meer nuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

‘Like’ ons Facebook blad en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button