EntertainmentLifestyleLocal newsNewsSchools

Hoërskooldogter maak opgang in Binnelanders

Skoolmeisie maak opgang in Binnelanders

Oppas Charlize Theron – ’n blonde meisie van Centurion gaan jou dalk eersdaags van jou Hollywood-troontjie afskop.

Dit is Lauren Botha se grootse droom om eers suksesvol in haar eie land te wees en daarna vir Charlize te wys waar Dawid (of is dit nou Lauren?) haar dramawortels begrawe het.

Lauren is ’n graad 11-leerling aan Hoërskool Zwartkop, wat verlede jaar haar eerste verskyning op Binnelanders gemaak het as ‘n ekstra. Sy moes as ‘pasiënt’ deur die hospitaalgange loop. Daar was geen dialoog vir die rol nie en sy het net nodig gehad om af en toe haar kop te knik wanneer een van die dokters verbyskarrel.

Binnelanders-regisseurs het egter Lauren se toewyding raakgesien en haar ‘n paar maande later ‘bevorder’ tot ‘kelner’ in die hospitaal se restaurant waar dokters en hospitaalpersoneel graag eet.

Lauren het Dinsdagaand ’n drama- en modelkursus vir opkomende skones by Model Management in Brooklyn aangebied. “Om aktrise te wees, is beslis nie net roem en maanskyn nie,” het die 17-jarige gewaarsku. “Dit is harde werk. Ek was 16 toe ek as ekstra by Binnelanders begin het en het baie skoolure misgeloop.”

Vir al die ure wat sy op stel in Johannesburg deurgebring het, is sy net R120 per dag betaal. “Intussen het ek darem ’n verhoging gekry,” het sy gespot.

Volgens Lauren wou sy nie gehad het die hele skool moes weet dat sy ’n gesig in Binnelanders sou wees nie. “My skoolhoof het egter voor die hele skool gesê dat ek nou beroemd is. Dit was moeilik, want skielik was sekere mense ’n bietjie snaaks met my. Ek het nie meer geweet wie werklik my vriende is nie,” het sy aan die tieners vertel.

Elmarie Botha, Lauren se ma, sê haar dogter het ’n balans tussen haar skoolwerk en akteursloopbaan gevind. “Sedert sy by Binnelanders begin het, is haar punte baie beter. Sy het haar sokkies opgetrek, is gemotiveerd en weet wat sy uit die lewe wil hê.”

Lauren werk saam met top-akteurs soos Gys de Villiers, Hans Strydom en Stefan Ludik. “Ek is mal oor al die akteurs, maar my gunsteling is beslis Gys de Villiers. Hy het hom eendag uit die bloute aan my kom voorstel… en Hans het my skrikgemaak. Ek het amper ’n skinkbord laat val,” het Lauren gesê.

Lauren sê sy sal nie in die voetspore van ander kinderakteurs volg wat die skool verlaat nie. Sy wil matriek voltooi en daarna musiekteater studeer voor sy moontlik groter roem in Hollywood gaan soek.

Vir meer gratis nuus besoek Rekord se webtuistes:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

Gaan besoek Rekord op Facebook of volg ons op Twitter.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button