Blou ballonne vir Moot-baba na sy tragiese dood
Baba Gerrit Venter is Vrydag onder tragiese omstandighede dood nadat hy vermoedelik aan sy melk verstik het, maar Woensdag tydens sy begrafnisdiens het pastoor Danie Maree getroos “dat hy sonder sonde hemel toe is".
Dit was een van daardie tonele wat niemand ooit sal vergeet nie: ‘n pa en ma wat ‘n klein kissie uit die kerkgebou dra en die begrafnisondernemer wat sy hand uitsteek om dit in ontvangs te neem.
Clarissa Venter van Gezina in Pretoria-Moot het rukkend gehuil terwyl haar man, Fanie, sy arms beskermend om haar gevou het. Haar steunpilaar, want sy het ‘n kind verloor.
“Gerrit Venter is ‘n klein tokkelos wie se lig vir ewig in die hemel gaan skyn,” het pastoor Danie Maree Woensdagoggend in die Volle Evangelie Kerk in Gezina tydens sy begrafnisdiens gesê.
“Al was hy nog nie eens drie maande oud nie, het hy ‘n vol lewe gehad. Omring deur sy ouers wat baie liefde op hom uitgestort het.”
Gerrit, wat op 6 Januarie gebore is, is Vrydag onder tragiese omstandighede dood nadat hy vermoedelik aan sy melk verstik het.
Hy was in daardie stadium in ‘n dagmoeder se sorg. “Ons kan nog nie sê dat daar wel nalatigheid betrokke is nie. Ons wag dat die outopsie-verslag bekendgemaak word. Ons sal dan weet of ons stappe moet neem of nie,” het Fanie vroeër die week aan Rekord gesê. “Ek wil nie op hierdie stadium kommentaar lewer nie.”
Sy ouers het hom na die Eugene Marais-hospitaal gebring, maar hy is daar oorlede.
Die kerk was stampvol; vriende en familielede het saam-saam gehuil oor sy kort lewe wat so vinnig tot ‘n einde gekom het.
Gerrit was sy ouers se laatlam – hy is tien jaar na sy boetie gebore. ‘n Skyfievertoning is voor die aanvang van die diens gewys wat ‘n foto-album van sy kort lewe kon wees.
Sy ma en pa wat in ‘n liefdevolle omhelsing staan. Sy ma wat swanger is met hom en haar hande oor haar bababoepie vou en ‘n foto van sy geboorte.
Sy kissie het voor in die kerk gestaan. ‘n Enkele kers het by twee foto’s gebrand. “Ons moet ons berus dat Gerrit nooit sonde geken het nie. Hy is sonder sonde hemel toe,” het pastoor Maree gesê. “Vir hom was die aardse lewe soos ‘n droom – dit is net so vinnig verby.”
Na die diens, sy kissie veilig in die lykswa, het bykans veertig wit-en-blou-ballonne soos spatsels wolke teen die grougrys lig gedartel.
Net soos die ballone op die wind se rug ry… “gaan Gerrit nou ook op die wind se rug perdjie ry,” het een van sy familielede in die begrafnisbrief geskryf. “Rus sag, ons tokkelossie klein, mag jou lig vir ewig in die hemel skyn.”
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

