Familie en vriende vereer Dr. Cival Mills
'n Roudiens is Vrydagmiddag in Centurion vir Dr. Cival Mills gehou.
Familie en vriende van Dr. Cival Mills het Vrydagmiddag by die NG Kerk Wierda Park bymekaar gekom om hul laaste eer aan hom te bewys.
Die kerk was stampvol en Mills se foto’s en kunswerke het by die ingang gestaan.
Voor die diens het drie goeie vriende van die mediese dokter elk ‘n huldeblyk aan hom opgedra.
Laurie Searle, wat vir Mills sowat agt jaar geken het, het gefokus op die positiewe impak wat Mills op sy en ander se lewens gehad het.
“Dit is ‘n ongelooflike voorreg om vandag iets oor Cival te kan sê. Ek glo vas dat almal wat vandag hierdie diens bywoon, self graag iets oor hom sou wou sê sou hulle die geleentheid gegun word,” het Searle gesê.
“Hy het ongelooflike karakter eienskappe besit, insluitend ‘n goeie sin vir humor, deursettingsvermoë, liefde, insig, deernis, nederigheid en die behoefte om ‘n verskil in ander se lewens te maak.”
Searle het ook vir Sam Mahlangu, wat vir jare na Mills omgesien het, nader geroep om hom te eer vir sy jare lange en liefdevolle diens teenoor Mills.
‘n Duiker vriend van Mills, Vic Hugo, het ook ‘n huldeblyk gelewer.
“Dit is ‘n eer om hier te kan praat oor ‘n groot man wat soveel spore in ons harte gelos het. ‘We salute you’,” het Hugo gesê.
“Cival was ‘n engel van bo en hy het die lewe voluit geniet en gelewe.”
Mills se assistent, Sarie Odendaal, het die bedankings tydens die diens behartig en twee briewe voorgelees van vriende wat nie die diens kon bywoon nie.
“As ek na die foto’s van Cival kyk, is sy glimlag al wat ek sien. Nie die rolstoel nie, net sy ongelooflike glimlag,” het sy gesê.
“Hy was die dapperste man wat ek geken het en hy het ons almal se lewens verryk. En die wonderlike Sam was ook altyd daar om te help.”
Volgens Mills se pa, Neville Mills, sal hy veras word.
Mills het 3 April by vriende gekuier toe hy verstik en gesterf het.
“Hy was by ‘n vriend se verjaarsdagpartytjie en het glo verstik. Alhoewel hulle alles in hul vermoë gedoen het om hom te red het dit nie gehelp nie,” het Neville Dinsdag gesê.
Lees: Dokter met “locked-in syndrome” sterf
Foto’s en kunswerke van Cival Mills het by die kerk ingang gestaan.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

