CrimeNews

Slenter steek kop uit

’n Huurder is R6 500 deposito geld kwyt nadat hy vir ’n huisverhuringslenter geval het.

‘n Hoopvolle voornemende huurder het R6 500 verloor nadat hy met ‘n onverwagse truuk gevang is.

Johan Tosen van die Wesrand sit met sy hande in sy hare nadat hy verlede Vrydag ‘n sekuriteitsdeposito van R6 500 vir ‘n huurhuis in Mountain View betaal het.

“Die vrou wat glo die ‘verhuurder’ is, het gesê hulle is nog by die see en dat sy my eers kan sien sodra sy terug is. Sy het gesê daar is soveel mense wat belangstel in die huis en as ek ‘n sekuriteitsdeposito neersit dan sal sy die huis vir my hou. Sy het selfs die huurkontrak en haar identiteitsdokument vir my gestuur. Dit het so werklik voorgekom,” het Tosen gesê.

Tosen het deur kennisse bewus geword van die huis-slenter en agtergekom dat hy met ‘n slap riem gevang is.

Hy was egter nie die enigste een wat in dié huis belang gestel het nie. Aldo Landman van Akasia het die huis op verskeie webwerf-winkels raakgesien. “Dit was snaaks dat só ‘n huis slegs vir R6 500 gaan. Ek het agterdogtig geraak en ondersoek ingestel. Nadat ek hulp van ‘n sekuriteitsmaatskappy gekry het, het ek die werklike eienaar van die huis opgespoor. Hy het gesê hy het die huis al drie maande gelede gekoop en dat dit van die mark af is,” het Landman gesê.

Hy het Harcourts Zambezi, ‘n eiendomsagentskap, gekontak en hulle van die slenter in kennis gestel.

Nicolien Benadie, ‘n agent van Harcourts Zambezi, sê dieselfde foto’s wat sy geneem het om die huis te adverteer het die swendelaar gebruik om die huis as ‘te huur’ op webwerf-winkels te adverteer. Sy het gesê die huis is reeds ‘n geruime tyd gelede verkoop.

Sy maan voornemende kopers en huurders om onder geen omstandighede enige deposito aan vreemde mense oor te betaal nie.

“Bevestig of die verkoper/verhuurder by die eiendomsraad gerigistreer is. Jy kan selfs die persoon se identiteitsnommer vir die eiendomsraad gee. As hulle nie geregistreer is nie, moet hulle nie gebruik nie behalwe as jy hulle ken,” het Benadie aanbeveel.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button