Ewige tuin vir die Afrikaanse liedjie
Net 'n klipgooi van die Voortrekkermonument het die FAK sowat twee jaar gelede 'n Afrikaanse liedjietuin aangelê waarin 30 van die mooiste liedjies op granietborde verewig is.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) steek al die afgelope twee jaar ‘n diep bewaarde geheim in hul tuin weg.
Min Suid-Afrikaners het al die geleentheid gehad om deur dié Afrikaanse liedjietuin, wat sover bekend die enigste in sy soort is, te wandel, want hulle het nie daarvan geweet nie.
Dit is maar die lukraak Chinese of Europese toeris, wat die Voortrekkermonument besoek, wat die geheime tuin ontdek het, maar wat verstaan hulle nou eintlik van Liewe Heksie, De la Rey en Ek sien vandag die son weer skyn?….
Die stukkie tuin, reg voor die hoofkantoor van die FAK, was eers ‘n jammerlike gesig, sê Zieg van Huyssteen, die operasionele bestuurder van die federasie. “Ons het toe besluit om Afrikaanse liedjies op granietborde te verewig en rose, wat na Afrikaanse sangers vernoem is, is rondom die granietborde geplant.”
Nou is dit ‘n oase, weg van die middestad se gewoel. ‘n Plek waar kinders kan speel – daar is selfs ‘n kinderliedjietuin – en waar volwassenes net kan asemskep.
Bok van Blerk se De la Rey, Koos du Plessis se Sprokie vir ‘n stadskind en Anton Goosen se Trompie is van die liedjies wat vir die nageslag bewaar gaan word.
Jak de Priester se Sally Williams Nougat is een van die laaste toevoegings tot die tuin en die sanger was ook daar toe die granietbord onthul is.
Van Huyssteen sê: “Die idee rondom die tuin is dat liedjies vir ewig sal voortleef, al sterf die sanger of skrywer daarvan.
“Dit was egter nie ‘n maklike proses om die liedjies te kies nie,” sê hy. “Liedjies is gekeur volgens hul gewildheid.”
Steve Hofmeyr se bekende Pampoen is een van die liedjies wat nie die klipmuur gehaal het nie, maar die ligpienk Steve Hofmeyr-roos is wel in die tuin geplant, al hang die roos nou ‘n bietjie pap aan sy stingel. “Besoekers sê die Steve-roos ruik die lekkerste van al die rose,” spot Samantha Muller, een van die FAK se werknemers.
Ludwig’s Rose, net buite Pretoria, het ‘n aantal jare gelede begin om spesiale rose, wat na sangers vernoem is, te kweek. Daar is onder meer ‘n liggeel Nataniël-roos in die tuin, ‘n skelpienk Rina Hugo-roos en ‘n Mimi Coertze-roos.
“Ons het ook vir Ludwig’s Rose genader om ‘n Afrikaanse roos vir ons te kweek,” sê Van Huyssteen. “Dit is ‘n warm, oranje roos.”
Die roos word op 7 Mei by die FAK se hoofkantoor bekendgestel.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.




