CrimeLocal newsNews

“Spiderman” weer gevang ná mislukte ontsnapping

Die berugte “Spiderman” is weer agter tralies ná ’n mislukte ontsnappingspoging.

Moot-inwoners kan rustiger slaap met die wete dat die berugte “Spiderman” steeds agter tralies is.

Dit kom nadat gerugte die ronde gedoen het dat die “Spiderman” uit aanhouding ontsnap het.

Alhoewel die inbreker, wat “Spiderman” gedoop is deur die Moot-polisie, wel probeer ontsnap het, het polisie hom vinnig weer gevang.

Volgens Adjudant-offisier Anton Breedt, polisie-woordvoerder, het polisielede die vermeende inbreker verlede Woensdag na Sunnyside vir adresbevestiging gevat.

“Hy het op ‘n manier uit sy voetboeie ontsnap en probeer weghardloop. Gelukkig het die polisielede daarin geslaag om hom vinnig te vang en weer in hegtenis te neem,” het hy gesê.

Die “Spiderman” word met verskeie sake in die Moot, Pretoria-Noord, Sunnyside en Natal verbind, het Breedt gesê.

Die inbreker verskyn weer Dinsdag in die hof waar hy glo aansoek vir borgtog gaan doen. Breedt kon nie bevestig of dié man in aanhouding wel die berugte “Spiderman” is wat die Moot-gemeenskap vir ‘n geruime tyd geteister het nie. Hy het gesê die saak word ondersoek.

Die Moot-polisie het ‘n dief wat doenig is in die omgewing “Spiderman” gedoop omdat hy op onverklaarbare wyse toegang tot woonstelle op hoë verdiepings kry.

Hy steel gewoonlik elektroniese toerusting, selfone en juweliersware. Dieselfde man word van ‘n onlangse mes-aanval en verkragting verdink.

Die 60-jarige Amanda Müller van Rietfontein is in Februarie in haar woonstel met ‘n mes aangeval. Die indringer het op onverklaarbare wyse toegang tot haar woonstel gekry voordat hy haar en haar sieklike vriendin sowat twee uur lank in die woonstel aangehou het.

‘n Vrou van Wonderboom-Suid is in die vroeë oggendure op 10 Maart deur ‘n onbekende man in haar woonstel verkrag.

Lees ook:

Moot se ‘Spiderman’ gevang?

Wonderboom-vrou in woonstel verkrag

Mes-aanval dalk ‘Spiderman’

Moot se eie “Spiderman” slaan toe

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button