“Kragopwekker-diewe” binne twee dae agter tralies
Bonnie en Clyde wat Dinsdag op kringtelevisie vasgevang is toe hulle Bakers Bin se kragopwekker weggedra het is Vrydag vasgetrek.

Die twee vermeende kragopwekker-diewe wat die afgelope week glo ’n sake-onderneming se kragopwekker gesteel het, is Vrydagmiddag vasgetrek.
Bonnie en Clyde, soos die inwoners van Garsfontein na hulle verwys, se misdade is Woensdag op kringtelevisie vasgevang toe hulle Bakers Bin se kragopwekker weggedra het, op die hoek van Godreystraat en Gildaweg.
Michael Henwick, die bestuurder van Bakers Bin, het ’n klag van diefstal by die Garsfontein-polisiekantoor aangemeld.
Die video-materiaal is op sosiale media versprei, en binne ’n paar uur het dié paartjie se haarkapper hulle erken.
JP Griesel, woordvoeder van Bulls Security, sê hulle was ’n geruime tyd op die paartjie se spoor. “Ons het hulle so eenuur Woensdagmiddag in Rubensteinlaan vasgetrek. Ons het ’n hele paar veiligheidsmotors gestuur wat hulle rooi Hyundai Getz van die pad af gedwing het.”
Griesel vermoed dat die twee verskeie kragopwekkers gesteel het.
’n Bron het aan Rekord gesê dat dié vrou afgelope tyd glo onder geweldige finansiële probleme gebuk gegaan het.
Dave Miller, polisiewoordvoerder, het bevestig dat twee verdagtes in verband met die kragopwekker-diefstal in hegtenis geneem is.
Hulle verskyn Dinsdag in die hof.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.



